Hoop in Seisoene van Lyding

David Wilkerson (1931-2011)

Ek het 'n boodskap vir diegene wat 'n pynlike, oorweldigende situasie beleef. Ek praat nie met diegene wat nou 'n tyd van rus, weg van lyding af geniet en nie nou enige soort pyn of hartseer ly nie. Dank God vir daardie tye van stille rus.

Ek ontvang soveel briewe van kosbare volgelinge van Jesus wat met ongelooflike innerlike hartseer en krisissituasies leef: egskeiding, kinders op dwelms of in die tronk, die dood van 'n huweliksmaat. ’n Vrou wat so lief is vir die Here treur oor die dood van drie van haar kinders wat almal in ’n brand versmoor het. ’n Pastoor treur oor sy vrou wat hom en hul kinders vir ’n lesbiese minnares gelos het. Dit gaan aan en aan en soveel godvresende mense word oorlaai met hartseer en pyn.

Ek het 'n boodskap vir jou wat met pyn leef. In die psalms het Dawid uitgeroep: “Want onheile sonder getal het my ormring...Laat dit U behaag, HERE, om my te red; HERE; maak tog gou om my te help!” (Psalm 40:13-14, AFR53), en “Laat almal wat U soek, in U vrolik en bly wees ... Al is ek ellendig en behoeftig – die HERE dink aan my; U is my hulp en my redder; my God, vertoef tog nie” (Psalm 40:17-18).

Ek is so geseën en vertroos met hierdie een reël: "Die Here dink aan my." Stel jou dit voor. Die Here God wat alle dinge geskep het, die God van hierdie heelal, dink aan my.

Selfs op hierdie einste uur, is sy gedagtes by jou in jou uur van nood.

Toe Israel in Babilon in ballingskap was en getreur het oor die verlies van huise en gesinne, het God deur sy profeet aan hulle boodskap gestuur: “Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee” (Jeremia 29:11). God het vir sy volk gesê: “Jou nagmerrie gaan eindig. Ek het net goeie, liefdevolle gedagtes oor jou, en as jy My met jou hele hart soek, sal jy My vind” (sien Jeremia 29:11-13).

God is nie kwaad vir jou nie. Heilige mense word wel geteister, so moenie wankel in jou vertroue in Hom nie. In tye van spanning en gevoelens van eensaamheid en spyt, gaan bid. Stort jou hart uit voor die Here. Hy dink aan jou en Hy is besig om vir jou op te tree.