Hoe Word Ons Sterker

David Wilkerson (1931-2011)

Wanneer teenstand ook al kom, floreer God se genade in ons. Dink aan wat met ‘n boom gebeur wanneer ‘n groot storm dit tref. Die wind dreig om die boom te ontwortel en dit om te waai. Dit breek takke af en waai blare af. Dit maak sy wortels los en waai sy botsels af. Wanneer die storm verby is, lyk dinge hopeloos.

Kyk egter van naderby; dieselfde storm wat skeure in die aarde rondom die stam van die boom gemaak het, het gehelp dat die wortels dieper kan groei. Die boom het toegang tot nuwe, dieper bronne van voeding en water. Dit is skoongemaak van al sy dooie takke. Die knoppies is miskien weg, maar ander sal weliger groei. Daardie boom is nou sterker en groei op ‘n onsigbare manier. Wag net tot die oes kom, want dan sal dit baie vrugte dra.

Miskien is jy tans in ‘n storm. Die wind waai hard en skud jou hard en jy dink jy gaan dit nie maak nie. Geliefde, moenie bekommerd wees nie! Jy moet weet dat te midde van die storm, groei jou geestelike wortels diep. God vorm ‘n verdiepende nederigheid, ‘n groter berou en hartseer oor sonde, ‘n verhoogte honger na sy geregtigheid in jou.

Paulus sê: “En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk” (Romeine 5:3, AFR53).

In 2 Korinthiërs 4:16-17 lees ons: “Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe. Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid.” Die woord “bewerk” in hierdie vers, is dieselfde as “werk” in Romeine 5:3.

God maak van jou ‘n ervare soldaat van die kruis, met oorlogletsels, maar oorlogwys en dapper. Jy kan soms jouself verwyt maar die Here doen dit nooit. Hy kon in werklikheid te enige tyd soewerein optree om jou uit jou stryd te haal, maar Hy het nie omdat Hy dit gebruik om krag en nuwe lewe in ons te vorm.