Hoe die Gees Blydskap Gee

David Wilkerson (1931-2011)

Die Heilige Gees dryf alle vrees uit ons uit – vrees om so te misluk dat ons nie meer verlos kan word nie, vrees om van God afgesny te word, vrees om die teenwoordigheid van die Heilige Gees te verloor – deur sy vreugde in ons in te plant. Ons moet bly uitgaan soos Dawid, want God het ons verseker dat ons sal oorwin.

So min Christene besit hierdie vreugde en uitermate blydskap. Menigtes ken nooit die rus van siel of die vrede van Christus se teenwoordigheid nie. Hulle loop rond asof hulle treur en sien hulleself onder God se toorn eerder as onder sy beskermende vlerke. Hulle sien Hom as 'n harde slawedrywer, altyd gereed om met 'n sweep op hul rug te klap. Hulle leef ongelukkig met min hoop, meer dood as lewend.

In God se oë, is ons probleem vertroue. Jesus het ons sondeprobleem eens en vir altyd op Golgota opgelos. Hy raas nie gedurig met ons: "Hierdie keer het jy te ver gegaan" nie. Sy houding teenoor ons is net die teenoorgestelde. Sy Gees bearbei ons voortdurend en herinner ons aan die Vader se liefderyke goedhartigheid, selfs te midde van ons mislukkings.

Wanneer ons op ons sonde gefokus raak, verloor ons heeltemal uit die oog wat God die graagste wil hê: “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en 'n beloner is van die wat Hom soek” (Hebreërs 11:6, AFR53). Hierdie vers sê alles. Ons God is 'n beloner en Hy is so gretig om ons met sy liefdevolle goedhartigheid te oorlaai dat Hy ons lank voor die tyd seën.

Dit is die konsep wat ons hemelse Vader graag wil hê ons moet van Hom hê. Hy koester diegene wat op Hom vertrou, soos die Skrif sê: “Maar nou verlang hulle na ‘n beter een, dit is ‘n hemelse. Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle ‘n stad berei” (Hebreërs 11:16).

Die Here sê in wese: "Ek wil my kinders verseker dat my Seun se reinigende bloed hulle bedek het en Ek het vir hulle 'n plek voorberei." Sy Gees in ons fluister hierdie belofte in ons harte en vervul ons met blydskap.