God se Plan om Vyande te Oorwin

David Wilkerson (1931-2011)

In 2 Konings, lees ons van die Aramese leër wat die stad van Samaría omsingel het. Die Arameërs het eenvoudig buite die stad laer getrek en gewag dat die Samaritane van honger sterf. Toestande het so versleg dat moeders aangebied het om hulle kinders te kook vir kos. Dit was uiterste gekheid (sien 2 Konings 6:24-33).

Vier melaatses wat buite die stadsmure gewoon het, het uiteindelik vir hulleself gesê: “Wat bly ons hier totdat ons sterwe?...Kom dan nou en laat ons oorloop na die laer van die Arameërs. As hulle ons laat lewe, dan bly ons lewe; en as hulle ons doodmaak, dan sterwe ons” (2 Konings 7:3-4, AFR53). Daar was soveel wanhoop. Hulle het geen uitweg uit die beproewing gesien nie. Hulle het nie God se boodskap geglo dat Hy hulle sou red nie en daarom wou hulle hulleself aan hulle vyande oorgee.

Toe hulle by die Aramese laer aankom, was alles doodstil. Hulle het toe al die tente deursoek, maar almal was weg. Die Skrif verduidelik: “Want die Here het die leër van die Arameërs ‘n gedruis van waens en ‘n gedruis van perde, ‘n gedruis van ‘n groot leërmag laat hoor ... Daarom het hulle in die skemer klaargemaak en gevlug, maar hulle tente en perde en esels, die laer soos dit was, in die steek gelaat; en hulle het vir hulle lewe gevlug” (2 Konings 7:6-7).

Toe die melaatses dit besef, het hulle deur die laer gegaan en hulle vol geëet en gedrink en toe het hulle begin om die groot skatte wat God voorsien het, te gaan wegsteek.

“Toe sê hulle die een vir die ander: Ons doen nie reg nie. Hierdie dag is ‘n dag van goeie boodskap, en ons bly stil! As ons vertoef tot die môrelig toe, dan sal ons skuldig staan ... En hulle het gekom en na die poortwagter van die stad geroep ...” (2 Konings 7:9-10). Die Here het die hele situasie omgekeer en het middele gegee om sy volk te herstel en te verkwik. Dit was ‘n enorme oorwinning, maar was nie beldoel om net ‘n paar mense aan te raak nie. Hierdie seëninge was bedoel om gedeel te word.

Diegene wat die Here se kinders is, word ‘n wonderlike oorwinning oor die vyand beloof, maar God se werk om ons onthalwe is nie bedoel om by ons te stop nie. God wil hê dat jy moet weet, “Ek gaan jou meer as ‘n oorwinnaar maak. Ek werk aan ‘n nog groter doel vir jou in my koninkryk. Jy is bedoel om my seëning na ontelbare mense te bring wat onder die skadu van wanhoop en dood sit. Jy sal vir hulle goeie nuus bring!”