God se Eindelose Liefde vir Hulle Wat Ly

David Wilkerson (1931-2011)

Wanneer jy die swaarste ly, gaan na jou afgesonderde binnekamer en huil al jou wanhoop uit! Jesus het gehuil. Petrus het bitterlik gehuil; hy het die hartseer omdat hy die Seun van God verloën het, saam met hom gedra. Daardie bitterlike trane het 'n heerlike wonderwerk in hom verrig en hy het teruggekom om die koninkryk van Satan te skud.

Jesus kyk nooit weg van 'n hart wat ween nie. Hy het gesê: "Die offers van God is 'n gebroke gees; 'n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!" (Psalm 51:19, AFR53). Die Here sal nie een keer sê: “Ruk jouself reg! Staan op en neem jou medisyne. Kners op jou tande.” Nee, Jesus bêre elke traan in sy ewige kruik.

Ly jy? Erg? Gaan voort en huil! Hou aan huil totdat die trane ophou vloei, maar laat die trane slegs voortspruit uit lyding en nie uit ongeloof of selfbejammering nie.

Die lewe gaan aan. Jy sal verbaas wees hoeveel jy kan verdra met God wat jou help. Trane en leegheid sal jou dalk soms verswelg, maar God is steeds op sy troon. Jy kan jouself nie help nie. Jy kan die pyn en hartseer nie keer nie. Ons geseënde Here sal na jou toe kom en Hy sal sy liefdevolle hand onder jou plaas en jou optel om weer in hemelse plekke neer te sit. Hy sal sy eindelose liefde aan jou openbaar.

Bemoedig jouself in die Here. As die newels jou omring en jy geen uitweg uit jou dilemma kan sien nie, lê dan terug in die arms van Jesus en vertrou Hom net. Hy wil jou geloof en vertroue hê. Hy wil hê jy moet hardop uitroep: “Jesus is lief vir my! Hy is by my. Hy sal my nie in die steek laat nie. Hy laat alles reg uitwerk. Ek sal nie neergewerp word nie. Ek sal nie verslaan word nie. Ek sal nie 'n slagoffer van Satan wees nie. Ek is lief vir God en Hy is lief vir my!”

Soos Paulus in sy briewe aan die kerk gesê het. “Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vir ons is, wie kan teen ons wees? Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie ook saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?” (Romeine 8:31-32).

Geluk is om nie sonder pyn of seer te leef nie. Ware geluk is om te leer hoe om een dag op 'n slag te leef, ondanks al die hartseer en pyn.