God Wil Sondaars Red

David Wilkerson (1931-2011)

God se volk in Juda het 'n probleem gehad; hulle het getwyfel aan sy gewilligheid en krag om mense wat in afvalligheid en afgodediens vasgevang was, te verlos. “Maar hulle sê: Dit is tevergeefs; bekeer julle tog, elkeen van sy verkeerde weg, en maak julle weë en julle handelinge goed” (Jeremia 18:12, AFR53). Juda het gedink: “Ons het te ver gegaan en daar is geen omdraaikans nie. Ons het die Here verlaat, Hom bespot, eenkant toe gestoot en Hom sleg behandel. Dit is te laat. Nie eers God kan ons terugbring nie.”

Na al my jare in die bediening, moet ek steeds stry teen hierdie soort gedagtes. Jy mag dalk dieselfde voel. Miskien is iemand vir wie jy lief is 'n ateïs, gemeen en goddeloos. Jy het jouself oortuig dat hulle nie gered kan word nie.

Die Here het vir Juda gesê: “Is my hand werklik te kort om te verlos?” (Jesaja 50:2). Te kort hier beteken om "af te kap." God het gesê: “Sê vir my, het die vyand my magtige arm afgekap? Het Ek my krag verloor om te red? Nee! My magtige arm het die Rooi See laat opdroog. Dit het die hemele met swartheid beklee. Dit het blinde oë oopgemaak. Julle het gesien dat ek tot die uiterste sal red. So hoe kan julle dink dat Ek  my krag verloor het om julle te verlos?”

Wanneer het God sy mag verloor om die verskriklikste sondaar op aarde te red? Wanneer het Hy sy gewilligheid verloor om verlore, hopelose mense te verlos, selfs al het niemand vir hulle gebid nie? Sou God op een of ander manier besluit om nie jou familielede, vir wie jy getrou gevas en gebid het, te red nie? Glad nie. Ons moet met geloof tot Hom uitroep: “O, Here, U kan Wall Street red. U kan sondaars en misdadigers in New York of Boise, Idaho, bevry. U kan ongelowiges in alle nasies loskoop, en U kan enige lid van my familie red. U arm is nie te kort nie. U kan enigiemand red!”

Moenie glo God se hand is afgekap nie. Glo Hom eerder vir die onmoontlike. Hou vas aan 'n visioen van sy liefde en genade, van sy magtige uitgestrekte arm, almagtig om te red. Ons moet bid en geduldig wees en Hy sal ons geliefdes bymekaarmaak, een op 'n slag!

“Keer terug, o afkerige kinders, spreek die HERE, want Ek is heer oor julle; en Ek sal julle neem, een uit ‘n stad en twee uit ‘n geslag en sal julle in Sion bring” (Jeremia 3:14).