God Liefhê met Al Jou Krag

Gary Wilkerson

Baie mense word groot met die hoor van lering aangaande die vers wat sê: “Want die liggaamlike oefening is tot weinig nut” (1 Timótheüs 4:8, AFR53). Hierdie bewoording word dikwels geïnterpreteer om te beteken dat goeie versorging van 'n mens se fisieke gesondheid onderaan die lys is in terme van algehele welstand.

Kom ons beskou dit egter van naderby. In hierdie brief was die kerk besig om gevestig te word. Paulus was voortdurend aan die rondbeweeg, het die grondslag gelê en leiers opgerig. Hy het die jong Timótheüs in beheer van die kerk in Éfese aangestel. Timótheüs het sy hande vol gehad om onderrig te gee, doktrinêre verskille te besleg en ander leiers te ontwikkel. Paulus het Timótheüs bemoedig in sy moeilike taak om hierdie praktiese kwessies te hanteer. 

Die doel van vers agt is bloot om die gelowiges te herinner dat ons gees voortleef, daarom is geestelike gesondheid uiters belangrik. Paulus het egter nie fisieke gesondheid tot 'n voetnota afgemaak nie. Trouens, hy het holistiese gesondheid regdeur sy sendbriewe bevorder. Hy het gesê: "Timótheüs, maak seker dat jy hulle leer hoe om hul prioriteite reg te kry en 'n gebalanseerde lewe te lei."

Fisieke gesondheid is 'n belangrike deel van daardie balans en ons moet oorweging skenk aan die feite. In baie lande leef groot bevolkingsgroepe sittende lewens. Sedert COVID-19, word afstand skedules die werkpleknorm; werknemers kan by die huis sit en 'n volle dag se werk doen feitlik sonder om te beweeg. Vandag kan jy 'n universiteitsgraad aanlyn verwerf en jou kruideniersware laat aflewer terwyl jy studeer. 

Dit alles kom egter teen 'n prys. Die Nasionale Instituut vir Diabetes en Spysverterings- en Niersiektes sê dat meer as 42 persent van Amerikaanse volwassenes vetsugtig is. David Bush, skrywer van The Body Gospel, sê vetsug is 10 persent hoër in die kerk.

Ons fisieke krag beïnvloed ons geestelike wandel. Gebed, vas en allerhande geestelike dissiplines verg energie. As ons liggame nie saamwerk nie, kan ons geleenthede misloop om ons geestelike groei te verbeter. Om eerlik ons fisieke gesondheid te assesseer en die stappe te neem wat ons kan om dit te verbeter, verbeter ons vermoë om te dien.

Bush stel dit mooi: “Ek wil meer van God kan geniet, en ek kan dit doen wanneer ek reg eet en oefen en ek 'n gesonde gewig is. Ek wil my familie, sowel as vreemdelinge wat die Here nodig het, kan liefhê. Ek wil hulle kan bystaan in hul oomblik van nood. Ek kan dit beter doen as my fisiese liggaam onder beheer is”.