God Het My ‘n Onverwagte Boodskap gegee

David Wilkerson (1931-2011)

Een aand tydens 'n biduur, het God vir my iets oor ons kerk gesê wat ek nie verwag het om te hoor nie. Die Here het vir my gefluister, “Hierdie kerk het skokbehandeling nodig! Te veel mense het tevrede en selfvoldaan geword. Julle voel veilig teen al die winde en golwe van valse leerstellings wat oor die land waai, maar julle is nie voorbereid op wat kom nie!”

Geliefdes, om die Gees se getuienis in jou te laat funksioneer, is 'n saak van lewe en dood. As jy nie die getuienis van die Heilige Gees in hierdie laaste dae het nie, gaan jy dit nie maak nie. Jy sal toegee aan die naderende gees van die Antichris.

Jy het elke dag die krag van die Heilige Gees nodig by die werk, by die skool, in jou gesin. Dit is wat Jesus vir ons probeer sê het van die dwase maagde wie se olie vir hulle lampe opgeraak het. Hulle het 'n voorraad van die Heilige Gees gehad, maar hulle het nie sy getuienis op die laaste oomblik gehad nie. Moenie uiteindelik 'n dwase maagd word nie! As jou olie opraak—as jy jou kerk of jou pastoor vertrou om jou siel te bewaar—bekeer jou dan.

Verneder jouself en deursoek jou hart; roep tot God om jou siel van alle woede en bitterheid te verlos. Bely jou sondes en laat dit staan. Vertrou weereens op God vir alles. Kry die vrede van God in jou hart, sodat jy 'n Heilige Gees-getuienis kan hê. Vra die Vader vir 'n groter inwoning van die Gees. Nooi Hom om jou getuie en leidsman in alles te wees.

Ons het 'n prys om te betaal om die hele pad saam met Jesus te stap, maar ons sal ook groot belonings ontvang. Eerstens, sal ons die seën hê van Christus wat by ons staan. Daar is ook baie ander belonings waarna Christus verwys het toe Hy gesê het: “En elkeen wat huise of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van my Naam verlaat het, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe beërwe” (Matthéüs 19:29, AFR53).

Die prys om Christus te volg, was duidelik in die lewens van die kinders van God in die Bybel, en as ons soos ons Meester gaan wees, moet ons hierdie prys ook aangryp. Om dit te verdra word 'n vreugde want Jesus belowe om saam met ons te staan ​​in elke situasie.

Ons kan enigiets of enigiemand hanteer wanneer ons weet die Here staan saam ​​met ons. Bereken die koste en weet dat jou beloning die kosbare teenwoordigheid van Jesus Christus is.