God Beskik Uitkoms

Gary Wilkerson

Die Gees van Christus woon in ons, en die krag van God werk deur ons, selfs in ons versoekings. Ons weet dit omdat die Bybel dit duidelik stel: “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra” (1 Korinthiërs 10:13, AFR53).

Ek hou van wat Paulus hier sê, dat God die uitkoms sal gee.

Ons leef vandag in 'n kultuur wat nie wil glo dat Christus die enigste uitkoms is nie. Oprah het haar soort uitkoms en Dr. Phil kan jou 'n ander weg na uitkoms wys, en 'n sekere kliniek kan jou hul weg na uitkoms wys; maar die Bybel sê nie dat Jesus een van baie weë is om uitkoms te kry nie. Christus sê duidelik: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe” (Johannes 14:6).

Wanneer God sê dat Hy sal voorsien, herinner dit aan ‘n Ou Testamentiese gedeelte wat jy waarskynlik voorheen gehoor het? Onthou jy die storie van Abraham toe hy die berg uitgeklim het om Isak te offer? Hy het die geloof gehad om te sê: “God sal vir Homself die lam vir ‘n brandoffer voorsien, my seun” (Génesis 22:8). God voorsien inderdaad 'n offer: “En Abraham het dié plek genoem: Die HERE sal voorsien! Sodat vandag nog gesê word: Op die berg van die HERE sal dit voorsien word.” (Génesis 22:14). Dit was dieselfde plek waar Salomo die tempel van die Here sou bou, waar God 'n plek beskik het vir sy volk om met Hom te ontmoet.

Die Israeliete sou regdeur die Ou Testament probeer om God op ander plekke te ontmoet, ander weë te probeer vind om uitkoms te kry van hul probleme, maar dit het nooit vir hulle gewerk nie.

Wanneer ons uiteindelik sê: “My opoffering is nie genoeg nie. My weg is nie die regte een nie,” en God se pad volg, sal sy voorsiening in ons werk. Geen man kan sonder Jesus van sonde gereinig word nie. Geen vrou kan 'n regverdige lewe lei sonder die toegerekende geregtigheid van Christus nie.

Jy kan nou enige versoeking in jou lewe oorwin. Jy kan dit oorwin omdat God die weg beskik het. Ons Verlosser gee ons die lewe wat ons nodig het om die soort geregtigheid te leef wat die wet van God vereis.