Gewortel en Gegrondves in Liefde

David Wilkerson (1931-2011)

“Sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is, en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God” (Efésiërs 3:17-19, AFR53).

Gewortel en gegrond beteken hier “om onder jou ‘n diep en stabiele fondament van kennis en begrip van die liefde van God vir jou te bou.” Die kennis van God se liefde vir jou is die fundamentele waarheid waarop alle ander waarhede gebou moet word!

Byvoorbeeld, ‘n heilige vrees van God is nie ‘n vrees dat Hy gereed staan om jou plat te slaan as jy uitgevang word vir een of ander foutjie nie. Dit is liewer ‘n vrees vir sy heiligheid teen rebellie en wat Hy doen aan die wat die duisternis liewer het as die lig.

Christene wat in skuld, vrees en veroordeling lewe, is nie “gewortel en gegrond” in die liefde van God nie. Ons hemelse Vader het sy Seun gestuur om vir ons sondes en swakhede te sterf. Sonder die volle kennis en begrip van daardie liefde teenoor jou, sal jy nooit ‘n stabiele of permanente fondament hê nie.

Die Griekse woord vir “begryp” in vers 18 stel voor “om gretig te gryp of besit te neem van”. Die apostel Paulus wil hê jy moet hierdie waarheid begryp en dit die fondament van jou Christelike lewe maak. Steek jou geestelike hande uit en sê: “Ek gaan dit gryp!”

Miskien word jy aangeval deur ‘n versoeking wat jy skynbaar nie kan afskud nie. Miskien dra jy ‘n gevoel van nooit goed genoeg wees, of onwaardigheid, ‘n vrees dat die duiwel jou gaan pootjie en jy God sal teleurstel.

Dit is die dag vir jou om wakker te word vir God se liefde vir jou. Ek bid dat terwyl jy hier lees, dit jou diep in jou hart sal tref sodat jy sal kan sê: “Dit is ek en ek wil nie op hierdie manier lewe nie!” Ek bid dat jy hierdie waarheid sal begryp en dat dit jou oë sal oopmaak en help om in ‘n nuwe realm van blydskap en vrede binne te gaan in jou daaglikse wandel met Hom.