Getattoeëer in die Palm van Sy Hand

David Wilkerson (1931-2011)

Hierdie is een van my gunsteling Skrifte: “Jubel, o hemele, en juig, aarde; en berge breek uit in gejubel! Want die HERE het sy volk getroos en ontferm Hom oor sy ellendiges. Maar Sion sê: Die HERE het my verlaat, en die HERE het my vergeet! Kan ‘n vrou haar suigling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie? Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ék jou nie vergeet nie! Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer; jou mure is gedurig voor My” (Jesaja 49:13-16, AFR53).

God sê ek is in die palm van sy hand gegraveer! Die Hebreeuse woord vir “getatoeëer” beteken onuitwisbaar, onuitveebaar. Hy kan nie sy hand uitsteek sonder om aan my herinner te word nie! Ek glo met my hele hart dat ek 'n koninklike kroon is, 'n diamant in sy hand, 'n plesier vir sy siel. Hy is nie kwaad vir my nie; Hy verlustig Hom in my!

Geliefde, ek wil jou gerusstel met hierdie woorde. Jy gaan dalk deur beproewinge en lyding. Jy is dalk ver van wat jy graag in die Here wil wees. Jy kan egter bo alle twyfel seker wees daarvan dat jy ook vir Hom 'n plesier is.

Luister na hierdie wonderlike belofte. “Ek wil juig en bly wees in u goedertierenheid, omdat U my ellende aangesien, my siel in die benoudhede geken het en my siel nie oorgelewer het in die hand van die vyand nie; U het my voete op vrye grond laat staan...O, Hoe groot is u goedheid wat U weggelê het vir die wat U vrees, wat u uitgewerk het vir die wat by U skuil, in teenwoordigheid van die mensekinders” (Psalm 31:8-9, 20).

God het vir jou alles gegee wat jy nodig het om vry en seëvierend te wees. Hy sien jou toestand raak en Hy gee om. Hy omhels jou terwyl jy Hom aanroep, en Hy is gereed om vorentoe te tree om jou enige oomblik van die dag te help.