Geregtigheid vir Almal

Mark Renfroe

“Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is... bedink dit” (Filippense 4:8, AFR53).

Die Heilige Gees het die apostel Paulus gedring on die klein groepie gelowiges in Filippi aan te moedig om te dink aan die dinge wat regverdig is: “…alles wat regverdig is”. As ons immers regverdig gaan optree, moet ons eers regverdig dink.

Geregtigheid het ‘n glibberige konsep in ons wêreld geword. Sommige mense sê van ‘n regverdige samelewing: “Dit is een waarin mense kry wat hulle ‘verdien’”. Dit is effens problematies, want ek het opgemerk dat die meeste van ons genade vir onsself wil hê, maar geregtigheid vir ander.

Die Bybel praat baie van geregtigheid. Moses het vir die kinders van Israel gesê: “Jy mag nie die reg verdraai nie; jy mag nie partydig wees nie; ook mag my geen omkoopgeskenk aanneem nie, want die geskenk verblind die oë van die wyse en verdraai die sake van die wat reg het” (Deuteronómium 16:19).

Moses het verder gesê: “Julle mag geen onreg doen in die gereg nie. Jy mag vir die geringe nie partydig wees nie en die aansienlike nie voortrek nie. Met geregtigeid moet jy oor jou naaste oordeel” (Levitikus 19:15). Die Ou Testament geskiedkundige wat onder die leiding van die Heilige Gees die geskiedenis van die kinders van Israel neergeskryf het, het geskryf: “Mag die skrik van die HERE dan nou op julle wees; handel nougeset, want by die HERE onse God is geen onreg of partydigheid of aanneming van geskenke nie” (2 Kronieke 19:7).

Dit is interessant dat ons gevra word om aan geregtigheid te dink. Ons word aangemoedig om te dink aan wat regverdig is. Wanneer ons oor geregtigheid in ons wêreld dink, is ons gedagtes geneig om te dwaal na alles wat ons sien wat onregverdig is. So, hoe moet ons dink oor dit wat regverdig is? Die beste manier is om te dink aan die Een uit wie alle geregtigheid uiteindelik vloei.

In ‘n wêreld waar dit lyk of ongeregtigheid heers en ons harte voortdurend ongerus hou, sal om op God se geregtigheid te fokus, help om ons gedagtes rustig te hou. Wie van ons het dit nie nodig nie?