Gereed vir Herlewing

David Wilkerson (1931-2011)

Kan ons gereed wees vir herlewing as ons glo dat alle hoop verlore is, dat ons ons dag van genade weggesondig het en niks anders as oordeel oorbly nie? Ons kan nie geloof hê vir 'n herlewing voordat ons oortuig is dat God steeds sy Gees op ons wil uitstort nie.

Mense vra: “Hoekom is Amerika nie veroordeel nie? Hoekom het Jesus nog nie gekom nie?” Dit is omdat daar nog 'n groot oes voorlê en God “. . . wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Petrus 3:9, AFR53)?

Ons sien die Here se groot barmhartigheid in Jesaja waar God die profeet opdrag gegee het om vir Juda te sê: “Waar is tog die skeibrief van julle moeder waarmee Ek haar verstoot het? Of wie is daar van my skuldeisers aan wie Ek julle verkoop het? Kyk, weens jul ongeregtighede is julle verkoop, en weens jul oortredinge is julle moeder verstoot. Waarom het Ek gekom en daar was niemand nie, het Ek geroep en niemand geantwoord nie? Is my hand werklik te kort om te verlos, of is daar in my geen krag om uit te red nie?” (Jesaja 50:1-2).

God het reeds van Israel af weggedraai en aan hulle ‘n “. . . skeibrief gegee” (Jeremia 3:8). Sy aandag was nou op Juda, 'n volk wat Hom verneuk en weggeloop het. God het egter steeds sy hand uitgesteek; Hy het na Juda gegaan om die skeibrief te sien (sien Jesaja 50:1). Hy het gesê: “Wys vir My jou skeidokumente! Bewys dat Ek jou weggejaag het. Jy het van My af weggeloop. Ek het niks gedoen om jou te bedroef of seer te maak nie. Ek het jou die hele tyd liefgehad.”

Dit is wat ek God sien met ons doen. Hy sê: “Wys vir My dat Ek van julle af weggeloop het. Ek het nog nie my Heilige Gees weggeneem nie. Inteendeel, Ek is nog steeds aan die werk in elke land, Ek bearbei steeds, roep en kom na jou toe!”

Die Here spreek dit van kansels af regoor Amerika en inderdaad regoor die wêreld. Hy spreek dit deur godvrugtige mans en vroue wat kosbare tyd spandeer om Hom te soek. Hy roep ons terug tot bekering, terug na sy eie hart. Ons moet verstaan dat daar nog tyd is, nog hoop en dat terwyl ons bid, die Gees op alle vlakke van die samelewing aan die werk is en mense bearbei en na Homself roep.