Genade en Vrede vir Julle

David Wilkerson (1931-2011)

Ek glo dat gebed gemeng met geloof die antwoord op alles is. Paulus het gesê: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend word” (Filippense 4:6, AFR53).

"In alles" beteken "Bid oor alles, en wees dankbaar dat jou versoeke gehoor en verhoor sal word." Ons word aangesê om te bid as ons eerste opsie, nie nadat ons alles anders tevergeefs probeer het nie. “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matthéüs 6:33).

Soveel Christene word vandag deur Satan geplunder. Hulle huise is ontstig; hulle word geteister met vrees en skuldgevoelens; hulle beleef probleme van oral af. Die probleme waarvan ons bediening lees in briewe van Christene is oorweldigend.

Om eerlik te wees, maar min gelowiges wat probleme ondervind, wend hulle tot die Here met vurige gebed. Min het vandag konsekwente kwaliteit tyd alleen saam met God in gebed. Wanhoop tree in omdat hulle nie hulleself in gebed afsonder om hul siele se laste af te laai en hul smarte tot die Here uit te roep nie. In plaas daarvan, vertel hulle al hul probleme aan vriende, pastore, beraders; en hulle verwaarloos die Here wat wag dat hulle alleen saam met Hom moet wees. Ons bid as 'n laaste uitweg.

Is God beswaard oor hierdie geslag op dieselfde manier as wat Hy met Israel was? Hy het van hulle gesê: “Maar my volk het My vergeet, dae sonder getal” (Jeremia 2:32).

God is bly wanneer ons eerste na Hom gaan, wanneer ons spesiale tyd maak om alleen saam met Hom te wees, ons innerlike gevoelens uitstort en ons versoeke voor Hom neerlê. Ons het geen reg om te sê ons is lief vir die Here as ons nie gereeld tyd saam met Hom deurbring nie. Hy sal jou gebede hoor en verhoor, maar Hy wil alleen saam met jou wees sodat Hy in 'n stil oomblik met jou kan praat.

Terwyl ek elke dag in die Here se heilige teenwoordigheid ingaan, is my mees konsekwente smeking dat die Heilige Gees God se Woord vir my sal openbaar sodat ek 'n ware spreekbuis van Hom kan wees. Mag jy kwaliteit tyd vir Hom maak en Hom met jou smekinge vertrou.