Geloof om die Stryd te Deurstaan

David Wilkerson (1931-2011)

Laat my jou vertel hoe en waar Paulus sy sendbriewe geskryf het. Hy het dit in donker tronkselle geskryf. Hy het dit geskryf nadat hy geslaan was of nóg ‘n skipbreuk gely het. Hy was intiem bekend met swaarkry en lyding.

Paulus het geweet dat al die waarheid en openbaring wat hy verkondig het, uit die slagveld van geloof gekom het, en hy het gejuig in sy verdrukings ter wille van die evangelie. Hy het gesê: “Nou kan ek met alle gesag preek vir elke gevangene wat opgesluit is sonder hoop, vir almal wat ooit die dood in die gesig gestaar het. God se Gees het my ‘n beproefde veteraan gemaak sodat ek sy waarheid kan verkondig aan almal wat ore het om te hoor.”

As jy deur swaarkry gaan, het God jou nie aan Satan oorgegee nie. Nee, Hy laat jou beproewing toe omdat die Heilige Gees ‘n onsigbare werk in jou doen. Christus se heerlikheid word in jou verander vir die hele ewigheid. Jy sal nooit ware geestelikheid kry van iemand of iets anders nie. As jy God se heerlikheid gaan smaak, sal dit na jou toe kom net daar waar jy is in jou huidige omstandighede, aangenaam of onaangenaam.

Ek glo een van die grootste geheime van Paulus se geestelikheid was sy gereedheid om watter toestand hy ook al in was, te aanvaar sonder om te kla. Hy skryf: “Ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is. Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee” Filippense 4:13 AFR53).

Paulus sê in wese: “Ek probeer nie om myself teen my onaangename omstandighede te beskerm nie. Ek smeek God nie vir verligting daarvan nie. In teendeel, ek omhels dit. Uit my geskiedenis met die Here, weet ek dat Hy iets ewig in my doen.

Ons werk in elke beproewing is om God te vertrou vir al die krag en hulpbronne wat ons nodig het om vergenoegdheid te midde van ons lyding te vind. Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie. Om “vergenoeg” te wees in ons beproewings beteken nie dat ons dit geniet nie. Dit beteken eenvoudig dat ons vergenoeg is om rustig te wees en te verdra wat ook al aan ons toebedeel word, omdat ons weet ons Here is besig om ons te verander na die beeld van sy Seun.