Geloof en Aksie
Toe die apostel Petrus wonderbaarlik uit die tronk bevry is (sien Handelinge 12:7-11), het hy na die huis van gebed gegaan om vir hulle wat vir hom ingetree het van die wonderwerk te vertel. Toe Petrus klop, was die groep steeds besig om vurig te bid. Hulle het geen idee gehad hoe effektief hulle gebede vir hul broer was nie.
Die Skrif sê dat hul gebede inderdaad “aanhoudend” was, wat beteken het dat hulle aan God vasgehou het en het nie moed verloor het nie. Dit is die tipe gebed waartoe Christus sy kerk roep. Dit is volhardend en passievol daaroor om ‘n geliefde, vriend, of selfs ‘n stad vrygemaak te sien.
‘n Interessante ding het egter gebeur toe hierdie gelowiges hoor dat hulle gebede verhoor is: Hulle het dit nie geglo nie! ‘n Diensmeisie het vir hulle gesê dat Petrus by die poort was. “En sy het ...van blydskap die poort nie oopgemaak nie, maar na binne gehardloop en vertel dat Petrus voor die poort staan. Maar hulle sê vir haar: Jy is van jou verstand af. Maar sy het volgehou dat dit so was. Daarop sê hulle: Dit is sy engel” (Handelinge 12:14-15, AFR53). Hulle het klaarblyklik geglo dat Herodes hom reeds doodgemaak het.
God is in die reddingsbesigheid. Hy doen die onmoontlike met slegs een woord en wanneer Hy mense red, is hulle waarlik vry. Dalk het jy in jou eie lewe opgemerk wat gebeur as jy met ‘n probleem sukkel. God maak die eerste paar poorte vir jou oop en laat die laaste een dan vir jou om met geloof oop te maak. Hy het bonatuurlik vir Petrus poorte oopgemaak, maar hierdie laaste een het geloof en ‘n aksie geverg.
Waarom doen die Here dit? Hy weet dat selfs met ons vurigste gebede, kan ons steeds ‘n klein bietjie ongeloof in ons harte hê. Ja, God is soewerein in sy mag, maar Hy wil hê sy Bruid moet betrokke wees by sy verlossingswerke. Elke ware beweging van God in die geskiedenis het manne en vroue geverg wat opgestaan en gesê het: “Ek wil in tel wees. Ek is miskien swak of skaam, maar God eer hulle wat met geloof optree”.
Ja, dit alles begin by gebed. Vurige, effektiewe gebed laat God ysterpoorte oopmaak en gevangenes vrylaat. Petrus se storie maak dit duidelik, maar dit wys ook daarop dat as ons nie met geloof daardie laaste poort oopmaak nie, sal party gevangenes buite bly staan. Vriend, die laaste deel van vurige gebed, is getroue aksie!