Gehoorsaam die Stem van die Here

David Wilkerson (1931-2011)

As jy leiding wil hê, as jy dink jy is gereed om te doen wat Hy vra, laat my toe om jou dan een belangrike vraag te vra. Is jy gereed vir ‘n onstellende boodskap, ‘n sending van swaarkry en verwerping, ‘n lewe van geloof met geen gewaarborgde gemak, behalwe dié van die Heilige Gees?

Dit is presies wat met Jesaja gebeur het! Die profeet het vrywillig aangebied: “Stuur my, Here!” en God het hom op ‘n harde, moeilike sending gestuur.

“En Hy het gespreek...Maak die hart van hiedie volk vet en maak hulle ore swaar en bestryk hulle oë, sodat hulle nie sien met hul oë en met hul ore nie hoor en hul hart nie verstaan nie, en hulle hul nie bekeer en gesond word nie” (Jesaja 6:9-10, AFR53).

Die boodskap wat Jesaja gehoor het, was nie baie vleiend nie. In teendeel, dit sou hom gehaat en ongewild maak. Die Here het vir hom gesê: “Gaan, verhard hulle wat weier om My te hoor praat. Maak toe hulle oë en ore toe; voltooi die verharding van hulle harte!”

As jy God se stem wil ken, moet jy gewillig wees om alles te hoor wat Hy sê. God sal nooit sê: “Gaan!” voor Hy eers vra: “Wie sal gaan?” nie. Hy kom na jou toe en vra: “Is jy gewillig om enigiets te doen wat Ek jou beveel en dit op My manier te doen? Is jy gewillig om jou lewe af te lê?”

Toe ek gebid het vir leiding jare gelede, het die Here duidelik vir my gesê: “Gaan terug na New York toe.” Dit was ‘n baie ongemaklike boodskap vir my. Ek was gereed om af te tree. Ek het beplan om boeke te skryf en by uitgesoekte plekke te preek. Ek het gedink: “Here, ek reeds my beste jare daar deurgebring. Gee my ‘n ruskans!”

Ja, ons wil die stem van God hoor, maar ons wil dit gemaklik hoor. Ons wil nie hê dat dit ons moet onstel nie. Waarom sou God egter vir ons sy stem van leiding gee as Hy nie seker is ons sal Hom gehoorsaam nie?

Abraham het geleer om God se stem te hoor deur eers te gehoorsaam wat hy gehoor het, op die oomblik waarop hy dit gehoor het. God se boodskap aan hom was om sy seun, Isak, te offer (sien Génesis 22:2). Abraham het op daardie boodskap gehandel en sy gehoorsaamheid het ‘n heerlike geur geword wat die hele wêreld aangeraak het: “In jou nageslag sal al die nasies van die wêreld geseën word, omdat jy na my stem geluister het” (Génesis 22:18).