Die Vader se Blydskap

David Wilkerson (1931-2011)

Daar is twee kante van Christus se werk op Golgota. Die een kant is tot voordeel van die mens en die ander kant is tot voordeel van God. Die een bevoordeel die sondaar, terwyl die ander die Vader bevoordeel.

Ons is goed bekend met die voordeel aan die menslike kant. Die kruis van Christus het aan ons vergifnis van ons sondes verskaf. Ons word die mag van oorwinning oor alle verslawings en heerskappy oor sonde gegee. Ons word voorsien van barmhartigheid en genade. Natuurlik word ons die belofte van die ewige lewe gegee. Die kruis het ons die manier gegee om te ontsnap van die verskrikkinge van sonde en die hel.

Ek dank God vir hierdie voordeel van die kruis vir die mensdom en vir die wonderlike verligting wat dit bring. Ek is bly dat dit week na week in kerke regoor die wêreld verkondig word.

Tog is daar nog 'n voordeel van die kruis, een waarvan ons baie min weet. Dit is tot voordeel van die Vader. Ons verstaan ​​bitter min van die vreugde van die Vader wat deur die kruis moontlik gemaak is. Dit is die genot wat Hy het wanneer Hy 'n verlore kind in sy huis ontvang.

Na my mening, het die meeste Christene geleer om met vrymoedigheid voor God te gaan vir vergifnis, voorsiening van behoeftes en verhoring van gebed; maar hulle kort vrymoedigheid in hierdie aspek van geloof, 'n aspek wat net so deurslaggewend is in hulle wandel met die Here.

Dit is waarom die Skrif sê: “Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees... laat ons toetree met 'n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ‘n slegte gewete en ons liggame gewas met rein water” (Hebreërs 10:19–20, 22).

As vergifnis al is waaroor ons op die kruis fokus, mis ons 'n belangrike waarheid wat God vir ons deur die kruis bedoel het. Hier is meer wat ons moet begryp en dit het te doen met sy blydskap. Hierdie waarheid bied aan God se volk veel meer as net verligting. Dit bring vryheid, rus, vrede en blydskap.