Epiese Mislukkings kan Omgekeer Word

Gary Wilkerson

Koning Dawid sit oorkant die profeet, erg beskaamd. Hy is bang, verstom oor Natan se teregwysing van God wat sy owerspel, bedrog en moord blootgelê het. Sy hart klop in sy keel, want sy lewe wat op ‘n hoogtepunt was net 'n paar minute gelede, is nou in vryval.

Simson word wakker uit sy slaap op die skoot van 'n vrou. Hy lag oor Delila se woorde “Die Filistyne is hier!” totdat hy besef dat sy fabelagtige krag weg is. Sy lewe en twintig jaar lange heerskappy as regter van Israel het pas in duie gestort.

Die verhale van hierdie twee manne bring ons na die altaar. Kom ons kyk hoekom hulle so ver geval het en hoe God hulle mislukkings omgekeer het.

Dawid het geweet hy was sondig; ons sien hoe hy in die psalms voortdurend sy broosheid erken. Hy het sy intimiteit met God bewaar met gebede, liedere, geskrifte en aanbidding. David het homself ook geanker met vriendskappe wat krag, perspektief en aanspreeklikheid verleen het. Hulle het Dawid weg van selfgesentreerdheid gehou en hulle het sy lewe meer as een keer gered. David was 'n huisbouer. Toe Jerusalem ingeneem is, het hy dadelik 'n huis vir sy gesin gebou. Hierdie dissiplines het hom goed te pas gekom in die jare ná sy val.

Simson het ook God se seën geniet, maar hy was meer van 'n alleenloper. Hy het gefokus op sy werk, vyande en oorwinnings. Die verslag van sy lewe in Rigters 13-16 openbaar geen gesonde vriendskappe nie. Hy was onbeskermd en heeltemal aangewese op sy eie oordeel en krag. Simson was 'n rondloper, nie 'n huisbouer nie. Hy kon dikwels agter vyandelike linies of rondswerwende vyandige woonbuurte gevind word. Toe die Filistyne kom, kon hy nie eers om hulp roep nie, want niemand het geweet waar hy was nie.

Dawid het veertig jaar lank regeer; die Messias sou uit sy geslag kom. Simson het in sy fleur gesterf, blind en in gevangenskap; maar hy het sy geloof weer voor sy dood gevind (sien Rigters 16:28). Hy word in Hebreërs genoem as 'n voorbeeld van diegene wat “deur die geloof … krag uit swakheid ontvang het” (Hebreërs 11:32-34, AFR53). Beide Dawid en Simson wys vir ons dat God se genade op sy grootste is wanneer daar geen hoop is nie. Op sy beurt, roep God ons om regverdig, nederig en verantwoordbaar vorentoe te gaan. Ons moet Hom sy volle verlossingswerk in ons laat doen, sodat ons sterk kan eindig.

“Ek delg jou oortredinge uit soos ’n newel en jou sondes soos ’n wolk; keer terug na My, want Ek het jou verlos” (Jesaja 44:22).