Duisternis Kan Die Lig Nie Keer Nie

David Wilkerson (1931-2011)

Toe ek die eerste keer met hierdie bediening begin het, het ek in kerke regoor Amerika gepraat en gewaarsku teen die morele grondverskuiwing wat sou kom. Ek het vir mense in Iowa, Oklahoma en al die suidelike state gesê dat dwelms selfs die kleinste gehuggie sou tref. Handelaars sou in skole en op speelgronde verskyn, nie net in donker stegies nie. Ek het gewaarsku teen blatante homoseksualiteit met naakparades wat in ons stede plaasvind, en ek het geprofeteer dat naaktheid en seksuele dade op spitstyd-televisie uitgesaai sou word.

Baie mense wat my hoor preek het, het gedink ek kom van Mars af. Pastore het my uitgeskel, en opregte Christene het na my toe gekom en gesê: “Dit sal glad nie so wees nie! God sal dit nooit in Amerika laat gebeur nie”. Vandag is sommige van daardie mense grootouers. Hulle sit voor hul TV's en kyk na die R-gegradeerde flieks waarvan ek geprofeteer het, en hul kleinkinders is verslaaf aan dwelms en alkohol. Die duisternis waaroor ek gewaarsku het, het gekom. Kan jy jou indink hoe donker dit dekades van nou af sal wees, sou die Here sy koms uitstel?

Dit lyk of die duisternis sekerlik ondeurdringbaar sou wees. Ek vra egter: “As jy sien hoe die duisternis oral erger word, glo jy dit sal die lig van die evangelie oortref? Is jy bang die duisternis sal dit uitdoof?”

God se kinders moet nooit geïntimideer word deur die duisternis en woede van die vyand nie. Die Bybel sê Jesus sal opstaan en skyn in die duisternis, maak nie saak hoe donker die wêreld word nie. “Die volk wat in duisternis gewandel het, het 'n groot lig gesien; die wat woon in die land van die doodskaduwee, oor hulle het 'n lig geskyn” (Jesaja 9:2).

Ons leef in 'n tyd van wydverspreide dood en duisternis, maar God sê dat Hy in sulke tye sy lig die helderste sal laat skyn. “En Ek sal blindes lei op ‘n weg wat hulle nie ken nie, hulle laat loop op paaie wat vir hulle onbekend is; Ek sal hard asemhaal en hyg tegelykertyd” (Jesaja 42:16).

Geen duisternis sal ooit God se lig keer nie! Haal dus jou oë af van die duisternis, van die sonde, van die woede van gewelddadige mense en glo die Here vir die uitbarsting van sy helder, uitstortende lig.