Dor Bene Kan Weer Lewe

David Wilkerson (1931-2011)

Eségiël 37 handel oor God se begeerte dat ons die beloftes van sy nuwe verbond moet in besit neem en leer hoe om werklik te lewe deur die seën van die verbond te ontvang. 

Ons het almal die storie gehoor van die “dor bene” wat deur die profeet Eségiël vertel is. Dit is belangrik om daarop te let dat hierdie ou bene wat leweloos op die grond gelê het, deel gehad het aan die verbond. Jy sien, die Here het vir hulle gesê: “Dor bene, hoor die woord van die HERE!” (Eségiël 37:4). God het hierdie verbondsbelofte gemaak: “En Ek sal my Gees in julle gee, dat julle lewendig kan word” (Eségiël 37:14)

Al was die nuwe verbondsbelofte aan hierdie dooie beendere verkondig, kon hulle nog nie die seëninge daarvan geniet nie. Baie gelowiges weet vandag van God se nuwe verbond, maar hulle kan dit skaars glo, want dit klink te goed om waar te wees. Hulle sê: “Ek weet God het aan ons die Heilige Gees gegee om in ons te woon en ek weet die Gees neem dit op Homself om ons gehoorsaam te laat wees aan Christus. Ek wil graag daardie seën hê, maar hoe kan ek dit vir my lewe verkry?” 

Die volgende is wat ons eerste moet doen. Eségiël skryf dat God vir hom gesê het om te profeteer: “So spreek die Here HERE: Kom aan uit die vier windstreke, o gees, en blaas in hierdie dooies, dat hulle lewendig kan word” (Eségiël 37:9). Die Skrif sê dat Esegiël geprofeteer het soos God beveel het, “Toe het die gees in hulle gekom, en hulle het lewendig geword en op hulle voete gaan staan – ‘n ontsaglike groot leër” (Eségiël 37:10). 

Wat 'n gesig! Daar het skielik 'n groot leër, wat lewendig was en asem gehaal het voor Eségiël gestaan! Die Heilige Gees het al daardie dooie liggame met lewe vervul, en nou was hulle bereid om te veg. Binne 'n oomblik het hulle die volle genot en seëninge van die nuwe verbond in besit geneem. “En julle sal weet dat Ek, die HERE, dit gespreek en gedoen het, spreek die HERE” (Eségiël 37:14). God se Gees het sy regmatige plek by hulle ingeneem, en Hy het al die beloofde veranderinge teweeggebring.