Dit Wat Nie Nagemaak Kan Word Nie

David Wilkerson (1931-2011)

Hier op die strate van New York Stad, kan jy ‘n Rolex horlosie vir vyftien dollar koop. Maar, elke New Yorker weet, hierdie horlosies is nie regtig Rolexes nie. Hulle is goedkoop namaaksels van die oorspronklike.

Dit wil voorkom of daar namaaksels is vir omtrent enige ding vandag, maar daar is een ding wat nie nagemaak kan word nie en dit is ware geestelikheid. Niks wat waarlik geestelik is, kan nagemaak word nie. Die Here herken die werk van sy eie hande en Hy sal nie ‘n mensgemaakte namaaksel van enige van sy goddelike werke aanvaar nie. Waarom nie? Omdat dit onmoontlik is vir die mens om dit wat werklik die werk van die Heilige Gees alleen is te dupliseer nie. Hy is heeltyd aan die werk en doen iets nuuts in sy kinders. Daar is geen moontlike manier vir ons om daardie werk kunsmatig te reproduseer nie.

Dit is die groot fout van die hedendaagse godsdiens. Ons dink dat as ons net kennis van die Skrif en Bybelse beginsels aan mense oordra, hulle geestelik sal word. Die feit bly egter staan dat geen mens of instansie die krag het om geestelikheid in iemand te vorm nie. Slegs die Heilige Gees doen dit.

Baie min van die werk van God se Gees kan uiterlik gesien word. Dit is hoekom geestelike mense selde na uiterlike bewyse van sy werk soek. Paulus sê: “Omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig” (2 Korinthiërs 4:18, AFR53).

In die konteks van hierdie paragraaf, praat Paulus van lyding en beproewings. Hy sê: “Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word ons innerlike mens dag ná dag vernuwe” (2 Korinthiërs 4:16).

Hulle wat egter hulle onderwerp aan die leiding van God se Gees en wat hulle beproewings hanteer met volle vertroue dat die Here besig is om iets in hulle te vorm, sal uit hulle smeltkroes kom met ‘n sterk geloof. Hulle getuig dat die Gees hulle tydens hulle lyding geleer het, ‘n innerlike werk gedoen het en hulle gees vernuwe het.

In al my jare wat ek saam met die Here wandel, het ek selde ‘n toename in my geestelikheid gesien, tensy ek deur swaar beproewings gegaan het en myself oopgemaak het vir die Heilige Gees se werking. As ons onsself aan God se vernuwing onderwerp, sal Hy ‘n geloof en geestelike krag in ons produseer wat nie deur die wêreld nagemaak kan word nie.