Die Aandagafgeleide Bruid van Christus

Carter Conlon

“Loof die HERE, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie! Wat al jou ongeregtigheid vergewe, wat al jou krankhede genees, wat jou lewe verlos van die verderf, wat jou kroon met goedertierenheid en barmhartighede ... Hy het aan Moses sy weë bekend gemaak, aan die kinders van Israel sy dade” (Psalm 103:2-4,7, AFR53).

Om God se natuur werklik te verstaan, moet ons dikwels eers na 'n woetsyn gelei word. Wat bedoel ek as ek van die woestyn praat? In die eerste plek is dit 'n plek van droogte en ontsaglike swaarkry, 'n plek waar ons van bekende geriewe gestroop word. Belangriker nog, die woestyn is 'n plek wat ons tot 'n totale afhanklikheid van God bring.

God sal ons nie net na 'n woestyn neem om 'n einde te maak aan verkeerde strewes en menslike planne nie, ek glo dat Hy ook op soek is na iets baie dieper. Aan die kern van dit alles, vind ons God se jaloesie oor sy bruid en sy hunkering na haar terugkeer na Hom.

Jesus het eenkeer oor sy eie volk uitgeroep: "Jerusalem, Jerusalem ... hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos 'n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie!" (Matthéüs 23:37). Jesus het na die inwoners van die stad Jerusalem verwys asof hulle een persoon was, soos 'n bruid wat eens op 'n plek van waardigheid gebring is, sodat sy Hom kon eer. Tog het hierdie bruid drasties gestruikel in haar roeping op die aarde.

Ons kan die onderliggende verlange in die roepstem van die Here hoor, baie soos 'n bruidegom met ‘n gebroke hart wat huistoe kom om te ontdek dat sy bruid nie getrou was nie. “Hoe graag wou Ek jou as my bruid hê! Ek wou jou as my eie hê. Ek wou jou tot in die nabyheid van my hart trek, sodat ons twee as een saam kon stap.”

Die Here is deeglik daarvan bewus dat iets anders die hart van sy bruid vasgevang het, en Hy is vasbeslote om haar terug te kry, selfs al beteken dit dat Hy haar na die woestyn moet lok. Daar val afleidings weg. Daar kan ons uiteindelik God se weë en sy hart verstaan.

Carter Conlon het aangesluit by die pastorale personeel van Times Square Kerk in 1994 en was aangestel as Senior Pastoor in 2001. In Mei 2020 het hy oorgegaan in ‘n voortgesette rol as Algemene Opsiener van Times Square Church, Inc.