Die Vrug van ‘n Lewe van Gebed

David Wilkerson (1931-2011)

Om ’n lid van God se ware kerk te wees, moet jy geken word deur die naam Jehovah Shammah: “Die HERE is daar” (sien Eségiël 48:35). Ander moet van jou kan sê: “Dit is vir my duidelik dat die Here met hierdie persoon is. Elke keer as ek hulle sien, voel ek die teenwoordigheid van Jesus aan. Hulle lewe weerspieël waarlik die heerlikheid van God.” As ons eerlik is, moet ons erken ons voel nie baie dikwels die Here se lieflike teenwoordigheid in mekaar nie. Hoekom nie? Christene spandeer hul tyd betrokke by goeie godsdienstige aktiwiteite soos gebedsgroepe, Bybelstudies, uitreikbedieninge; en dit is alles baie prysenswaardig, maar baie van hierdie selfde Christene spandeer min indien enige tyd om die Here in die binnekamer van gebed te bedien.

Die Here se teenwoordigheid kan eenvoudig nie nagemaak word nie. Dit is waar of dit van toepassing is op 'n individu se lewe of op 'n kerkliggaam. As ek van God se teenwoordigheid praat, praat ek nie van een of ander geestelike aura wat 'n persoon misties omring of wat in 'n kerkdiens neerdaal nie. Ek praat eerder van die resultaat van 'n eenvoudige maar kragtige geloofswandel soos Paulus Timótheüs beveel het. “Om hierdie rede herinner ek jou daaraan om die genadegawe van God aan te wakker wat in jou is deur die oplegging van my hande. Want God het ons nie 'n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing” (2 Timótheüs 1:6-7, AFR53).

Of daardie gees wat Paulus genoem het, nou in ’n Christen se lewe of in ’n hele gemeente gemanifesteer word, dit laat mense kennis neem. Hulle sê vir hulself: "Hierdie persoon was by Jesus," of "Hierdie gemeente glo werklik wat hulle verkondig."

Dit verg veel meer as 'n regverdige herder om 'n Jehovah Shammah-kerk te maak. Dit verg 'n regverdige, heilige volk van God. As 'n vreemdeling uit 'n kerkdiens kom en sê: "Ek het die teenwoordigheid van Jesus daar gevoel," kan jy seker wees dit was nie net as gevolg van die prediking of aanbidding nie. Dit was omdat 'n regverdige gemeente in God se huis ingegaan het en die Here se heerlikheid in hulle midde gebly het.