Die Uur van Isolasie

David Wilkerson (1931-2011)

Ek weet hoe dit voel om goddelike stilte te beleef, om vir 'n seisoen God se stem nie te hoor nie. Ek het deur periodes van totale verwarring gegaan met geen oënskynlike leiding nie, die sagte rustige stem agter my was heeltemal stil. Daar was tye wat ek geen vriend naby gehad het om my hart met raad gerus te stel nie. Al my patrone van leiding van voorheen het skeefgeloop, en ek is in totale duisternis gelaat. Ek kon nie my pad sien nie, en ek het fout na fout gemaak. So dikwels wou ek in desperaatheid uitroep, “O God, wat het gebeur? Ek weet nie watter kant toe nie!”

Verberg God werklik sy aangesig vir diegene wat Hy liefhet? Is dit moontlik dat Hy sy hand vir 'n kort rukkie afhaal om ons vertroue en afhanklikheid te leer?

Die Bybel antwoord duidelik: “God het hom [Hiskia] net verlaat om hom op die proef te stel, om te weet alles wat in sy hart was” (2 Kronieke 32:31). Ons neem miskien aan dat ons 'n rein hart het, maar enige kwessie van vertroue of troetelsondes wat ons moontlik koester, sal vinnig geopenbaar word wanneer ons met God se stilte worstel.

Jy gaan dalk nou deur 'n vloedstroom van beproewings. Jy weet waarvan ek praat as ek sê die hemele is soos koper. Jy weet alles van herhaalde mislukkings. Jy het gewag en gewag vir verhoring op gebed. Jy is 'n beker van beproewing bedien. Niks en niemand kan daardie verpletterende behoefte in jou hart vervul nie.

Dit is die tyd om jou standpunt in te neem! Jy hoef nie te kan lag of bly te wees nie, want jy is dalk nie op die oomblik gelukkig nie. Trouens, jy het dalk niks anders as onrus in jou siel nie, maar jy kan weet dat God steeds met jou is, want die Skrif sê: “Die HERE het gesit oor die Watervloed; ja, die HERE sit as Koning tot in ewigheid” (Psalm 29:10).

Binnekort sal jy sy stem hoor. Moenie opgewonde raak nie. Moenie paniekerig raak nie. Hou net jou oë op die Here gerig. Dra alles aan jou hemelse Vader op. Jy sal verseker wees dat jy die voorwerp van sy ongelooflike liefde bly.