Die Uitgerekte Werke van God

Gary Wilkerson

In die Ou Testament tye wanneer hulle salf olie gemaak het, het hulle dit deur drie verskillende perse gesit. Die eerste een het die olywe stukkend gedruk, die tweede een het die sap uitgedruk en dan het die derde een die olyfskille geneem en hulle weer ‘n keer gepers. Die resultaat was ‘n baie suiwer olie. Dit is soos die proses van heiligmaking. Die Heilige Gees tree op soos olieperse van ons harte.  

Die Here het die afgelope paar weke in my hart gewerk. Die Here het my probeer leer om nederig te wees, om myself nie met ander bedieninge te vergelyk nie, om myself nie met mense in die straat te vergelyk nie. Het jy al ooit gedink dat jy nie met sekere dinge sukkel nie, maar skielik skyn die Here die kollig op jou hart? Dinge wat jy nie eers gedink het daar was nie, kom jy agter is daar wanneer God dit uitwys. Deur die liefdevolle goedheid, genade en barmhartigheid van God, wil Hy daardie ding uit ons harte druk. 

Hierdie proses om ons uit te druk, stukkend te maak en uit te giet, is 'n lang proses. Soms as Hy dit doen, kan dit ons frustreer. “God, waarom vind U altyd fout met my? Waarom is U altyd krities? Waarom lyk dit asof U swaarkry en stryd in my lewe inbring? Hoekom sê U nie net vir my dat ek 'n goeie mens is nie?” 

Miskien kom ons by kerke uit waar hulle vir ons sê hoe goed ons is. Vlug as jy 'n kerk of vriende het wat jou net vertel wat se goeie mens jy is. Ek en jy het mense in ons lewens nodig wat bereid is om soos die profeet Natan op te tree toe hy vir koning Dawid gesê het: “Jy is die man, die moordenaar, die egbreker”. Daar is ‘n sonde in jou lewe waarop God sy vinger plaas. Hy wil dit uit jou hart en karakter druk, jou suiwer en dit verwyder. Die apostel Paulus het dit in sy briewe beskryf en gesê: “Aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie” (Romeine 6: 6, AFR53)

Ons kan toelaat dat hierdie lang proses ons frustreer, of ons kan dit aanneem as die genade waarvoor dit bedoel is. As ons onself weer in hierdie drukproses bevind, sê: “Dankie, Jesus. Dankie vir die genade van teregwysing”.