Die Tere Aanraking van Jesus

David Wilkerson (1931-2011)

Iemand wat hierdie lees, het 'n aanraking van Jesus nodig. Toe die Here hier op aarde gedien het, het Hy gegaan om die bedruktes te genees en te herstel deur bloot aan hulle te raak. Toe Jesus Petrus se skoonma aangeraak het, het haar koors haar liggaam verlaat (sien Lukas 4:38-40). Hy het aan die kis van 'n dooie kind geraak, en die seun het lewendig geword. Hy het die oë van blindes aangeraak, en hulle kon sien. Hy het aan die oor van 'n dowe man geraak wat toe kon hoor. Menigtes het hulle siekes en krankes gebring, en Jesus het tyd gemaak om uit te reik en hulle almal aan te raak, en hulle te genees: “Toe bring hulle kindertjies na Hom, dat Hy hulle die hande sou oplê en bid” (Matthéüs 19:13). Christus se sagte aanraking het alles verander.

As jy die Here werklik intiem ken, dan voel jy die aanraking van Jesus se hand. In tye van eensaamheid, moedeloosheid, verwarring en pyn, roep jy uit die diepte van jou siel: “Here Jesus, ek het u aanraking nodig. Ek moet u teenwoordigheid voel. Kom, Jesus, en raak my dorstige siel aan.”

Sommige het 'n aanraking van Jesus in hulle gedagtes nodig. Satan het gekom met sy goddelose owerhede om die verstand te teister en te oorval met gedagtes wat helagtig, ongelowig, on-Christelik, vreesagtig is, gedagtes van onwaardigheid, gedagtes van God se misnoeë. Eerlike gelowiges sal vir jou sê dat hulle hierdie aanvalle op hul gedagtes ervaar. Satan is vasbeslote om ons geloof en afhanklikheid van die Here te vernietig.

In die Skrif het die aanraking van Jesus gekom as antwoord op 'n roepstem. Daar is geen bewyse dat Hy ooit so 'n uitroep geïgnoreer of verwerp het nie. Hy sal nie van jou af wegdraai nie maar sal genadiglik reageer op jou behoefte. In die evangelies lees ons “En daar het ‘n melaatse man gekom en voor Hom neergeval en gesê: HERE, as U wil, kan U my reinig. Daarop steek Jesus die hand uit en raak hom aan en sê: Ek wil; word gereinig! En dadelik is hy van sy melaatsheid gereinig” (Matthéüs 8:2-3).

Kry vandag 'n plek alleen saam met Jesus en sê vir Hom wat die melaatse gesê het: “Here, U kan. Reinig my.” Verwag dat Hy wat geen aannemer van persoon is nie en jou in verstand, liggaam, siel en gees sal aanraak en genees. Die arm van die Here is na jou toe uitgesteek, maar Hy wag vir daardie hulpgeroep wat ook 'n roepstem van verwagting is.