Die Prys van Boesemsonde

David Wilkerson (1931-2011)

Die psalmdigter skryf die volgende oor een van God se grootste beloftes: “As sy kinders my wet verlaat en in my regte nie wandel nie; as hulle my insettinge ontheilig en my gebooie nie hou nie, dan sal Ek hulle oortreding met die roede besoek en met plae hulle ongeregtigheid. Maar my goedertierenheid sal Ek van hom nie wegneem en my trou nie verbreek nie” (Psalm 89:31-34, AFR53).

God belowe om nooit sy goedertierenheid van ons af weg te neem nie, maak nie saak hoe erg ons mag struikel nie. Baie gelowiges neem egter die ernstige waarskuwing in hierdie vers te lig op. As ons God se wet versaak en weier om sy bevele te gehoorsaam, sal Hy ons oortredings besoek met sy goddelike roede.

Die Bybel sê vir ons dat die Here hulle wat Hom liefhet, tugtig. Ons sien hierdie waarheid duidelik in Dawid se lewe geïllustreer. Dink aan hoe die Here opgetree het teenoor met hierdie man, 'n getroue dienskneg wat God se guns geniet het. Op 'n stadium in sy lewe het Dawid verskriklik gesondig, dit toe geregverdig en vir maande aaneen verborge gehou. Uiteindelik het God gesê: "Genoeg" en 'n profeet gestuur om Dawid se sonde te ontbloot. Die profeet Natan het ’n analogie gebruik om elke verskoning wat Dawid gehad het uitmekaar te trek totdat die koning uiteindelik erken het, “Ek het gesondig. Ek is skuldig.”

Dawid het geskryf: “Want my lewe kwyn weg van kommer en my jare van gesug; my krag struikel deur my ongeregtigheid, en my gebeente teer uit” (Psalm 31:10). Soos 'n gat in die olietenk van 'n motor, sal jou sonde jou stadig dreineer van alle vrede, vreugde en krag.

Ek ken Christene wat lewens van uiterste verwarring lei, omdat hulle aanhou om hulle aan sondes toe te gee. Hierdie armsalige siele is altyd neerslagtig en swak, sukkel altyd maar kom nêrens nie. As jy 'n geheime sonde koester, sal jy voortdurende steurnisse in jou lewe, huis, gesin en werk ervaar. Jy sal toenemend rusteloos en verward wees en rondgeslinger word deur eindelose bekommernisse en vrese. Al jou vrede en krag sal uit jou getap word.

God wil nie sy dienaars aan die kaak stel nie; dit is eerder in sy hart om ons sondes te vergewe, te reinig en te bedek. Met liefde sal Hy sy regverdiges tugtig, maar sy roede is vir die wetteloses. Blootlegging van geheime sonde is God se laaste poging om 'n opstandige, skynheilige kind, wat vasbeslote is om aan sonde oor te gee terwyl hy voorgee dat hy 'n geestelike mens is, te red. God se roede is slegs gereserveer vir onboetvaardige, hardkoppige gelowiges.