Die Oë van die Blindes Oopmaak

Gary Wilkerson

Een van my personeellede het verslag gelewer van iemand wat saam met ons werk. Hierdie span het sewe uur gery om na ons konferensie in Nairobi, Kenia, te kom. Hulle het hoog bo-op die balkon gesit. Dit was 'n taamlike groot arena en ons vriend se vrou het ‘n baie dik bril gehad. Selfs mét die bril was sy amper blind. Haar beskrywing was dat sy skaars die luidsprekers op die verhoog kon sien en sy het geweet daar is 'n skerm agter ons, maar die woorde was net een groot wasigheid; sy kon dit glad nie sien nie.

Ons het vir die siekes begin bid en sy het nie vorentoe gekom nie; sy is nie hande opgelê of enigiets nie. Sy was net daar bo-op die balkon. Intussen was een van die gebede wat die Here op my hart gelê het: “Here, ek gaan nou radikaal raak. Ek gaan U vra om blinde oë oop te maak. Net hier in hierdie ouditorium vandag.”

Sy het haar oë toegemaak en toe het dit rondom haar oë begin sweet. Dit is 'n vreemde manifestasie. Ek het nog nooit vantevore daarvan gehoor nie, het jy? Toe vertel sy dat haar oë begin brand het en sy het gesê: “O aarde! Ek dink die Heilige Gees raak my aan.” Sy was so opgewonde dat sy haar oë oopgemaak het, want sy het gedink dat sy my op die verhoog en die skerm en die woorde agter my sou sien. Maar sy het dit nie gesien nie.

Trouens, sy was gefrustreerd omdat dit gelyk het asof haar sig nog slegter geword het. Sy het gedink: “Dit is die duiwel! God sou nie dit doen nie.” Sy het toe haar bril afgehaal en uitgeroep: “O my aarde! Ek kan sien!" Dit was haar dik bril wat gemaak het dat sy nie kon sien nie, want haar oë was genees!

Toe sy dit vir ons vertel, het ek gedink: “Ja, dit is hoe kerk veronderstel is om te wees. Dit is hoe ’n Christelike lewe veronderstel is om te wees, waar ons na die Gees luister en Hom vra om krag en genesing te gee, as Hy ons so sou lei.”

Soos Paulus aan die gemeente geskryf het, so bid ek vir julle: “Daarom hou ons ook nie op nie...om vir julle te bid en te vra dat julle vervul mag word met die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig” (Kolossense 1:9, AFR53).