Die Moeder van Alle Sonde

David Wilkerson (1931-2011)

Ek kan ‘n hele katalogus van sondes opnoem wat gelowige Christene doen, maar nie een van hulle sou naby die sonde kom waaroor ek wil praat nie. Die moeder van alle sonde, die een wat geboorte gee aan alle ander, is die sonde van ongeloof.

Ek praat nie van die ongeloof van ‘n geharde sondaar nie. Die ongeloof van goddeloses, agnostici en ateïste doen niks aan God nie. Nee, wat God die kwaadste maak meer as enigiets anders, is die ongeloof en kwellende vertwyfelings van diegene wat hulleself aan sy Naam koppel. Sy kinders wat sê: “Ek is van Jesus”, maar twyfel, vrees en ongeloof in hulle harte het, bedroef Hom meer as alle ander. 

Hoe ernstig neem God hierdie sonde van ongeloof op? Hy neem dit inderdaad baie ernstig op. Judas het die kerk met hierdie woorde gewaarsku: “Maar ek wil julle daaraan herinner, al weet julle dit nou eenmaal, dat die Here, nadat Hy die volk uit Egipteland gered het, daarna die wat ongelowig was, omgebring het” (Judas 1:5, AFR53).

Judas herinner gelowiges aan God se gesindheid teenoor ongeloof. Hy sê in wese: Ek herinner jou aan God se uiterste haat vir ongeloof onder sy verlostes. Nadat Hy die volk gered het, het Hy diegene wat nie geglo het nie, omgebring”!

Geliefdes, God het my geroep om sy kerk te herinner aan dieselfde ding. “Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het” (1 Korinthiërs 10:11). God sal dalk nie meer sy kinders uitwis soos Hy in die Ou Testament gedoen het nie, maar sy oordele van ons ongeloof vandag, is geestelik en dit is net so erg. Dit is omdat ongeloof net so destruktief is soos nog altyd. Ongeloof sal veroorsaak dat ons hardnekkig en bitter word.  Ons sal ingesluk word deur ons probleme, spanning en familie probleme. Die ergste van alles, ongeloof sal ons geestelike lewens vernietig.

Baie van ons is skuldig aan die moeder van alle sonde en ons vrees dit nie. Ons neem ons ongeloof nie ernstig op nie; trouens, ons leef asof God dit oorsien. Nietemin, dit is een sonde wat ons ligaam en gees kwesbaar maak vir alle ander sondes wat aan die mens bekend is.