Die Kuur vir Ongeloof

David Wilkerson (1931-2011)

Toe ek deur my naslaanboeke gesoek het na maniere om ongeloof te "genees", het nie een van hulle iets vir my beteken nie. Daarom ek het God vir iets eenvoudig gevra en Hy het vir my twee gedagtes gegee oor hoe ek my hart van ongeloof kon bevry. 

Neem nou eers elke bekommernis, vrees en las. Werp dit alles op Jesus en los dit op sy skouers. “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle” (1 Petrus 5:7). Dit is God se persoonlike uitnodiging aan jou. “Werp dit alles op My! Moenie dit een uur langer dra nie. Ek gee om oor alles wat met jou gebeur en Ek is groot genoeg om dit alles vir jou te dra.” 

Is jy nie dankbaar dat God nooit oorlaai is nie? Sy skouers kan alle bekommernisse dra. Hy spoor ons aan om dit alles vir Hom te gee. “Werp jou sorg op die HERE, en Hý sal jou onderhou; Hy sal nooit regverdige laat wankel nie” (Psalm 55:23). Gaan nou af op jou lys. “God, ek gee vir U dit alles. Vat hierdie las, daardie verhouding, daardie probleem.” Wees ten volle oortuig dat Hy omgee! 

Tweedens, stap uit met volle geloof in die geskrewe woord van God. Neem die Here se uitdaging aan om volgens sy Woord te lewe. “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Matthéüs 4:4). Jy moet kan sê: "Ek gaan lewe en sterf deur God se woord aan my." 

Hoe is dit dat ons God se woord kan vertrou vir ons ewige verlossing, maar nie vir ons daaglikse behoeftes en probleme nie? Ons kan Hom glo vir die moeilikste deel. Hoekom is dit vir ons moeiliker om te glo vir hulp, leiding en mag oor sonde? “Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig” (Judas 1:24). God het dit aan jou belowe, laat Hom dus die las op Hom neem om jou te bewaar. 

Gaan na die Here en daag sy Woord uit. Sê vir Hom jy gaan jou lewe op die spel plaas. Wys Hom dat jy elke woord van Hom vertrou en wees geseënd!