Die Kuns van Tevredenheid

David Wilkerson (1931-2011)

Tevredenheid was 'n groot toets in Paulus se lewe. God het immers gesê dat Hy hom kragtig sou gebruik: "Gaan, want hy is vir My 'n uitverkore werktuig om my Naam te dra voor nasies en konings en die kinders van Israel" (Handelinge 9:15, AFR53). Toe Paulus die eerste keer hierdie opdrag ontvang het, het hy “dadelik Christus in die sinagoges verkondig dat Hy die Seun van God is” (Handelinge 9:20).

Paulus was nie haastig om alles in sy leeftyd vervul te sien nie. Hy het geweet hy het 'n onwankelbare belofte van God en hy het daaraan vasgehou. Vir die huidige oomblik was hy tevrede om te bedien waar hy ook al was, om teenoor 'n tronkbewaarder, 'n matroos of 'n paar vroue op 'n rivieroewer te getuig. Hierdie man het 'n wêreldwye opdrag gehad, maar tog was hy getrou om een-tot-een te getuig.

Paulus was ook nie jaloers op jonger mans wat skynbaar by hom verbygegaan het nie. Terwyl hulle deur die wêreld gereis het en Jode en heidene vir Christus gewen het, het Paulus in die tronk gesit. Hy moes luister na berigte van groot skares wat tot bekering gekom het deur manne met wie hy gestry het oor die evangelie van genade, maar Paulus het daardie manne nie beny nie. Hy het geweet dat 'n Christus-oorgegewe man weet hoe om gebrek te ly sowel as om oorvloed te hê. “Maar die godsaligheid saam met vergenoegdheid is ‘n groot wins. Want ons het niks in die wêreld ingebring nie; dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie. Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee tevrede wees” (1 Timótheüs 6:6-8).

Die wêreld vandag sal moontlik vir Paulus sê: “Jy is nou aan die einde van jou lewe, maar jy het geen spaargeld en geen beleggings nie. Al wat jy het, is die klere aan jou lyf.” Ek weet wat Paulus se antwoord sou wees. Hy het geskryf, “Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie. Want die skepping wat met reihalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God” (Romeine 8:18-19).

Mag ons saam met Paulus sê: “Ek het Christus as wins. Ek is die wenner! Ek het die kosbare pêrel gevind. Jesus het my die krag gegee om alles neer te lê en self weer op te neem. Wel, ek het dit alles neergelê en nou wag 'n kroon op my. Ek het net een doel in hierdie lewe: om my Jesus van aangesig tot aangesig te sien.”