Die Kosbare Pêrel

David Wilkerson (1931-2011)

Die evangelies gee ons 'n geweldige insig in Christus se gelykenisse: “Al hierdie dinge het Jesus deur gelykenisse vir die skare gesê, en sonder gelykenis het Hy vir hulle niks gesê nie; sodat vervul sou word die woord wat gespreek is deur die profeet: Ek sal my mond open deur gelykenisse; Ek sal uitspreek dinge wat verborge was van die grondlegging van die wêreld af” (Matthéüs 13:34–35, AFR53).

Vir baie Christene vandag klink die gelykenisse baie eenvoudig. Baie gelowiges blaai vinnig oor die gelykenisse. Hulle dink hulle sien 'n ooglopende les en gaan vinnig verder. Hulle maak die betekenis van 'n gelykenis af asof dit nie op hulle van toepassing is nie.

Volgens Christus, het elke gelykenis egter 'n fenomenale geheim. Daar is 'n verborge, koninkrykswaarheid in elke gelykenis wat Jesus vertel het. Daardie waarheid word slegs ontdek deur diegene wat ywerig daarna soek. Die Bybel stel dit duidelik dat daar geheime van die Here is. “Sy verborgenheid is met die opregtes” (Spreuke 3:32). Hierdie verborgenhede was onbekend van die grondlegging van die wêreld af, maar Matthéüs sê vir ons dat hulle in Jesus se gelykenisse weggesteek is. Hierdie verborge waarhede het die krag om Christene waarlik vry te maak. Ten spyte daarvan, is min gelowiges bereid om die hoë prys te betaal om dit te ontdek. Beskou saam met my een van die Here se gelykenisse.

“Verder is die koninkryk van die hemel soos ‘n koopman wat mooi pêrels soek; en toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit” (Matthéüs 13:45-46).

Jesus is die baie kosbare pêrel. Hy is van onskatbare waarde omdat die handelaar al sy ander besittings verkoop om Hom te koop. Christus is die skatkis in die veld. In Hom het ek alles gevind wat ek ooit sal nodig hê. Moenie meer probeer om betekenis in die bediening te vind nie. Soek nie meer na vervulling in familie of vriende nie. Soek nie meer na maniere om mense tevrede te stel nie.

Ek gee my vuil lappe van selfvertroue en goeie werke prys. Ek lê my verslete skoene van strewe opsy. Ek laat my slapelose nagte agter in die strate van twyfel en vrees. In ruil daarvoor, word ek deur 'n Koning aangeneem. Dit is wat gebeur wanneer jy die pêrel, die skat, soek totdat jy Hom kry. Jesus bied jou alles wat Hy is. Hy bring vir jou vreugde, vrede, betekenis en heiligheid.