Die Kosbare Naam van Jesus

David Wilkerson (1931-2011)

Die volgende boodskap is vir diegene wat 'n antwoord op gebed nodig het, wat hulp nodig het in 'n tyd van benoudheid en wat gereed en gewillig is om God se hart aan te raak volgens sy Woord.

Hou vas aan die verbondsbelofte in Psalm 46:2: "God is vir ons 'n toevlug en sterkte; as hulp in behoudhede is Hy in hoë mate beproef". Die frase " hoë mate beproef" beteken altyd beskikbaar, onmiddellik toeganklik. Geloof moet rus in die versekering dat God se Gees in al die ure van die dag en nag binne-in jou bly. Omdat Hy in jou woon, luister Hy na al jou biddende gedagtes en geroep.

Ons weet dat wanneer Hy ons hoor, sal Hy ons smekinge toestaan. Trouens, die Heilige Gees sal hemel en aarde beweeg vir enige kind van God wat tyd maak om sy hart voor die Vader uit te stort met ongejaagde, ongehaaste tyd in sy teenwoordigheid.

In Psalm 62:6-8 het Dawid 'n gebed gedoen wat God se hart aangeraak het. Hy het in wese gesê: “Wag net op God. Verwag hulp van geen ander bron nie. Hy alleen moet jou voorsiening wees, jou enigste hoop en verdediging. Net Hy kan jou die krag gee om te volhard totdat jou antwoord kom.” Wanneer jy heeltemal van die Here alleen afhanklik word – wanneer jy ophou om na die mens te kyk vir hulp en God vertrou vir die bonatuurlike – sal niks jou kan ontstel nie. Dawid het gesê: “Sekerlik, Hy is my rots en my heil, my rotsvesting; ek sal nie wankel nie” (Psalm 62:7).

Hier is die kern van alles, die geheim van oorredende gebed wat al die gelowiges deur die geskiedenis heen geleer het: die uitstorting van die hart voor die Here. “Vertrou op Hom altyd, o volk! Stort hulle hart uit voor sy aangesig! God is 'n toevlug vir ons. Sela” (Psalm 62:9). Hanna is ons voorbeeld. Desperaat vir 'n kind, het sy haar siel voor die Here “uitgestort” en daarna sê die Skrif: “Haar aangesig was anders” (1 Samuel 1:18).

God sal jou hoor en verhoor wanneer Hy sien dat jy bereid is om alle wêreldse stemme vir 'n tyd uit te sluit. Roep die inhoud van jou hart uit; stort jou siel voor Hom uit en vertrou dat Hy sal reageer. Die tyd het aangebreek vir gebrokenheid voor die Here en vir 'n geloof gebore uit berouvolle voorbidding.