Die Gees van Genade

David Wilkerson

Die Bybel sê dat die Heilige Gees uitgestort sal word as “...die Gees van genade en smekinge” (Sagaria 12:10, AFR53).

In die boek Titus lees ons dat genade aan ons gegee word as mag oor sonde sodat ons verstandige, heilige lewens kan lei. “Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe, terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus” (Titus 2:11-13).

Daar was 'n wonderlike mate van hierdie genade in God se kinders sedert Pinkster. Die Heilige Gees het oortuiging van sonde na alle nasies geneem en gelowiges van alle rasse en tale geleer hoe om goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te laat vaar. Die gevolg was 'n volk wat vroom en regverdig leef in hierdie huidige wêreld en wat smag na die koms van Jesus.

Ek glo Sagaria 12:10 profesieë dat, in die heel laaste uur, die Heilige Gees kragtig op God se kinders uitgestort sal word met 'n gees van genade wat hulle volkome van wêreldsgesindheid sal wegdraai. Dit sal in hulle 'n geroep om reinheid van hart voortbring.

'n Dierbare broer in die Here, die hoof van 'n bediening, het eenkeer gebel om my te vertel dat leiers in sy bediening bymekaargekom het om die Here te soek. Die Heilige Gees het sonde in hulle midde begin openbaar en verskeie van die bedieningspan moes ontslaan word. Die broer het vir my gesê: "Nou dat die Heilige Gees uitgestort is, is daar druk om reg te doen".

Sy woorde het my diep aangeraak en ek kon dit nie afskud nie: 'n druk om reg te doen. Wanneer die Heilige Gees uitgestort word en sonde openbaar, kom diegene wat louwarm of in 'n kompromie was, onder sondebesef. Predikante sal opgewek word met ware "genadeprediking", die soort wat mense oortuig van alle verborge dinge in hul lewens.

Geliefdes, die druk om sonde te laat vaar en reg te doen sal elke dag meer intens word in God se laaste-dag kerk! Mag ons almal ambassadeurs van genade vir mekaar wees.