Die Deurdringende Pyle van Heilige Waarheid

David Wilkerson (1931-2011)

Ek glo God moet 'n werk in ons verrig voordat ons aanspraak kan maak op enige verbondsbelofte. Wat is hierdie voorafgaande werk waarvan alle ander afhanklik is? Jeremia sê vir ons. “Ek sal my vrees in hulle hart gee, sodat hulle van My nie afwyk nie” (Jeremia 32:40, AFR53). God se fundamentele werk van die verbond is om sy vrees in ons harte te plaas deur die werk van die Heilige Gees.

Jeremia praat hier van die bepalings van God se nuwe verbond, nie die ou een nie. God sê baie duidelik vir ons hoe hierdie eerste werk van die verbond verrig sal word. “Ek sal my vrees in hulle harte plaas.” Hy laat ons weet dat ons nie 'n heilige vrees kan opwerk deur handoplegging of die strewe van ons vlees nie. Nee, die enigste manier waarop hierdie heilige werk in ons tot stand gebring kan word, is as God se Gees dit doen. 

God sê vir ons deur hierdie gedeelte: “Ek gaan wonderlike dinge in jou doen. Ek sal my eie Gees stuur om in jou te bly en jou ’n nuwe hart te gee.” Hy sal jou in staat stel om alle vleeslike dade dood te maak, en Hy sal jou lei na volkome vryheid van die mag van sonde. Uiteindelik, sal Hy versoorsaak dat jy sy welbehae wil doen en dit ook tot uitvoering sal bring. 

Daar is egter een werk wat die Gees in jou moet verrig voor enige van hierdie ander. Hy gaan die ware vrees van God rakende sonde in jou plaas, 'n diepe eerbied vir Hom en vir sy Woord. Hy sal 'n diepe ontsag vir sy heiligheid by jou inplant, sodat jy nie van sy gebooie sal afwyk nie. Anders sal jou sonde jou altyd van Hom af weglei. 

Baie eenvoudig gestel, die Heilige Gees verander die manier waarop ons na ons sonde kyk. Hy weet dat solank ons aanhou om dit ligtelik op te neem, ons nooit vrygemaak sal word nie. Hoe doen die Heilige Gees dit? Deur die oortuigende Woord van God te gebruik, die deurdringende pyle van heilige waarheid.