Die Buit van Geestelike Oorlogvoering

David Wilkerson (1931-2011)

Baie Christene dink dat wanneer hulle eers bekeer is, is hulle stryd verby en dat die lewe maklik sal wees. Niks kan egter verder van die waarheid af wees nie. God laat nie net ons stryd toe nie, maar Hy het ‘n heerlike doel daarmee in ons lewens.

Wat is die “buit van oorlogvoering”? Buit is geplunderde besittings of goedere wat in die oorlog deur die oorwinnaars afgeneem word.  Dawid het dieselfde eerbiedige gesindheid gehad teenoor buit wat in oorlogvoering afgeneem is. Ons sien dit in ‘n bevel wat hy aan die einde van sy lewe gegee het. Hy het die volk se leiers bymekaargeroep om ‘n goddelike bevel op te stel om God se huis in stand te hou. Watter hulpbronne sou hulle hê vir sy heilige werk? “Van die oorloë en van die buit het hulle dit geheilig om die huis van die HERE daarmee uit te rus” (1 Kronieke 26:27, AFR53).

Na elke militêre oorwinning, het Dawid die buit van goud, silwer, brons, hout en geld meer as wat jy kan tel, teruggeneem huistoe en dit opgegaar met een doel voor oë: om hierdie buit te gebruik as middele om die tempel te bou.

As die Skrif praat van die tempel in stand hou, beteken die oorspronklike Hebreeus “om die huis te herstel, versterk en te konsolideer wat opgebou was.” Hierdie middele was bedoel om die tempel se oorspronklike heerlikheid in stand te hou.

Waar is God se tempel vandag? Dit bestaan uit sy kinders: jy, ek en sy kerk wêreldwyd. Volgens Paulus is ons liggame tempels van die Heilige Gees (Sien 1 Korinthiërs 6:19). Soos antieke Israel, hou God steeds sy tempel in stand deur die buit wat in oorlog afgeneem is. Dit is waarom ons beproewings bedoel is vir meer as net ons oorlewing. Tydens elke stryd, sit God rykdom, hulpbronne en welvaart vir ons eenkant. Daardie buit word daaraan toegewy om sy liggaam, die kerk van Jesus Christus op te bou en in stand te hou.

Hier is die beginsel wat God wil hê ons moet ons eie maak: Ons Here stel belang in baie meer as om ons slegs oorwinnaars te maak. Ons moet uit die stryd kom met wavragte hulpbronne. Dit is waarna Paulus verwys as hy sê: “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het” (Romeine 8:37).

Ons vind hierdie beginsel van “voorsiening deur oorlog” dwarsdeur God se Woord. God se huis het lewenskragtig en lewend gebly omdat sy volk uit alle konflik gekom het, nie net seëvierend nie, maar ryk in hulpbronne.