Die Blywende Gelowige

David Wilkerson

“As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly” (Johannes 15:10, AFR53). Jesus het getrou al die gebooie van sy Vader gehoorsaam en Hy het dit bly genoem.

Party Christene dink hulle kan kies watter gebooie van Christus om te gehoorsaam. As hulle nie hou van wat beveel word nie, ignoreer hulle dit of verduidelik hulle hul ongehoorsaamheid met: “Ek sien dit nie so nie”. As iemand nie hou van die herder se oproep om heilig te wees nie, gaan soek hulle ‘n herder wat die positiewe dinge sal beklemtoon. Dit is waarom die verskriklike plaag van apatie deur die kerk versprei vandag.

Hoe is dit moontlik vir ‘n loot in Hom nie om te bly nie? Jesus het gesë: “As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand” (Johannes 15:6).

Om te bly, sluit in rus en verantwoordelikheid. Dit is moontlik om in Hom te wees, verbind aan die wingerd, en nie ‘n vloei van lewe te hê wat vrug produseer nie. Om te bly, het te doen met absolute gehoorsaamheid aan die gebod van Christus omdat elke loot vrye wil het, ‘n lewenskrag daarin.  

“As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry” (Johannes 15:7). Die Woord is die Vader se snoeiskêr. Hoe kan enige loot dra as die Woord van die Here geïgnoreer word, onbekend is of verwaarloos word?

Ons sien die vrug van droogheid oral in die Here se wingerd verskyn: owerspel, hoerery, drankmisbruik en dwelmmisbruik. Talle Christene vandag ken nie die Woord van God nie, omdat hulle dit nie lees nie. Dit is onmoontlik om die vrug van geregtigheid te dra sonder dat God se Woord in jou bly. Verwaarlosing van die Woord veroorsaak dorheid en bring ‘n verskriklike verwelking teweeg in God se kinders.  

Geliefde, die Woord van God is ‘n tweesnydende swaard. Die gelowige wat daarin bly, het God lief en vrees Hom, smag na die Woord en bewe vir sy krag van oortuiging van sonde.  Hy verbly Hom daarin dat die Woord alle struikelblokke wegsnoei, bid dat Christus se lewe en gelykenis altyd in hom sal toeneem en groei toenemend volwasse in gehoorsaamheid en liefde.