Die Blye Roepstem van Ons Harte

David Wilkerson (1931-2011)

Die Heilige Gees is die een wat ons vandag leer om te sê: “Abba Vader.”

Hierdie frase verwys na ‘n Midde Oosterse gewoonte van Bybelse tye rakende die aanneming van ‘n kind. Totdat die aannemingsdokumente geteken en geseël is deur die aanneempa, het die kind hierdie man slegs as “’n vader” gesien. Hy het geen reg gehad om hom abba, wat “my vader” beteken, te noem nie.

Sodra daardie dokumente egter geteken, geregistreer en geseël was, het die kind se leermeester hom aan die aanneempa voorgestel; en vir die eerste keer kon daardie kind “Abba, Vader!” sê. Terwyl die vader hom omhels het, het die jongeling uitgeroep: “My vader! Hy is nie net meer ‘enige vader” nie. Hy is myne.”

Dit is die werk en die bediening van die Heilige Gees in die lewens van alle gelowiges. Hy leer ons van Christus. Dan stel Hy ons aan die Vader voor. Hy hou aan om ons te herinner: “Ek het die dokumente geteken. Jy is nie langer ‘n weeskind nie. Jy is wettiglik ‘n kind van God!” Ons roepstem behoort een van uiterste blydskap en danksegging te wees. Nie net word ons nie verlaat nie, maar die Heilige Gees is daar met ons tydens oomblikke van verwarring en lyding.

Die Gees se taak is om Christus se bruid in die afwesigheid van die bruidegom te troos. “Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid” (Johannes 14:16 AFR53).

Die titel wat Hy aan die Gees gee, vertaal as “Trooster,” beteken iemand wat lyding en smart verlig, verligting bring, vertroos en bemoedig. Ek hou van die volgende definisie uit die Grieks: “Een wat jou op ‘n warm bed van veiligheid neerlê.” Deur die Heilige Gees die Helper of Trooster te noem, het Jesus ‘n onfeilbare voorspelling gemaak dat sy volk sou ly en vertroosting nodig sou hê.

Die Heilige Gees bring vertroosting deur jou te herinner dat Hy binne-in jou leef met al die krag van God inherent in sy wese. God het die Gees gestuur om sy krag te gebruik om jou uit die kloue van Satan te hou, om jou gees op te lig, alle wanhoop weg te dryf en jou siel te vul met die liefde van jou Here. Paulus het geskryf: “En die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is” (Romeine 5:5).

Hierdie beloftes behoort ons selfs groter blydskap te gee terwyl ons uitroep: “Abba Vader!”