Die Blomme van die Veld Beklee

Carter Conlon

“Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het” (Matthéüs 6:31-32, AFR53).

Ek onthou toe ek een oggend ver gaan draf het kort nadat ons huis afgebrand het. Op daardie tydstip, het ons nie eers genoeg klere vir ons kinders gehad nie. Ek het voorheen die bietjie spaargeld wat ek gehad het weggegee, so ek het geen finansiële rugsteun en geen werklike plan vir die toekoms gehad nie. Tog het die woorde van Jesus in die Matthéüs-evangelie skielik by my opgekom: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matthéüs 6:33).

Ek het vir God gesê: “Here, volgens u Woord het ek U gesoek. Ek het u koninkryk gesoek en ek het u geregtigheid gesoek. U het belowe dat alles wat ek nodig het vir my bygevoeg sal word, so ek gaan U eenvoudig op u Woord neem.”

Op daardie stadium het ek die keuse gemaak om die vrees vir môre weg te sit. Skielik het vrede my hart oorstroom.

God het presies gedoen soos Hy beloof het. Hy het alles by my gevoeg en Hy het dit soewerein gedoen. Ek het vir niemand 'n woord gesê nie, maar die verhaal van ons verlies het op een of ander manier oral versprei, regdeur ons gemeenskap en selfs na gemeenskappe daarbuite. Skielik het mense begin reageer en kerke waar ek nog nooit eens was nie, het uiteindelik offers vir ons opgeneem.

God het alles wat ons verloor het aan ons teruggegee en nadat die beproewing heeltemal verby was, het die Here vir my gesê: “Ek moes vir jou wys dat Ek dit alles kan wegvat en dat Ek dit alles kan teruggee. Dit is alles in my hande.” Ek het ook geleer dat God my bewaarder is en ek is vol vertroue dat Hy jou ook sal bewaar. Verklaar God getrou in jou beproewing en besef diep binne dat Hy jou nooit sal begewe of verlaat nie. Die Here het die eer van sy eie Naam gekoppel aan sy verbintenis om jou te bewaar.

Carter Conlon het aangesluit by die pastorale personeel van Times Square Kerk in 1994 en was aangestel as Senior Pastoor in 2001. In Mei 2020 het hy oorgegaan in ‘n voortgesette rol as Algemene Opsiener van Times Square Church, Inc.