Diamante Op Swart Fluweel

Jim Cymbala

Charles Spurgeon, die groot Britse prediker, het eenkeer gepraat oor hoe ’n juwelier, wanneer hy diamante gaan wys, die diamante op swart fluweel neersit. Die kontras tussen die diamante en die swart fluweel bring die glans van die juwele na vore. Wanneer God iets gaan doen, kies Hy die onmoontlikste, onwaarskynlikste situasies, want dan, as Hy klaar is, sê almal: "O, hoe groot is ons God!"

Soos Spurgeon in sy preek A Wafer of Honey geskryf het: "Ons swakhede word die swart fluweel waarop die diamant van God se liefde al hoe helderder skitter."

Om effektief te wees, veral in ons tyd van beproewing, moet God ons gebruik. Ons het die Heilige Gees nodig; ons is hulpeloos sonder Hom. Jesus het gesê: “Sonder My kan julle niks doen nie” (sien Johannes 15:5). Dit is 'n moeilike vers om te glo; maar sonder God kan ons niks doen nie. Dit beteken dat jy opreg kan wees, baie kan studeer, ywerig kan wees, 'n hoë IK kan hê en steeds ondoeltreffend kan wees vir die koninkryk van God.

Paulus sê in sy brief aan die gemeente in Korinthe: “Wat ons ook bekwaam gemaak het as dienaars van 'n nuwe testament, nie van die letter nie, maar van die Gees; want die letter maak dood, maar die gees maak lewend” (2 Korinthiërs 3:6, AFR53). Maar wat veronderstel dit? Dat ons onbevoeg kan wees. As Paulus sê: “Word kragtig in die Here” (sien Efesiërs 6:10) wat veronderstel dit? Jy is dalk swak, anders sou Hy in die eerste plek nie die opdrag gegee het nie.

Jy kan nie geestelike positivisme gebruik en Christelike slagspreuke oor dinge skree en dink dat dit alles gaan regkom nie.

Dit is duidelik dat ons bekwame bedienaars van die nuwe verbond wil wees. Op die oomblik, volgens die Bybel se definisie, is 7.2 – 9 persent van die bevolking Christene. As almal 'n bekwame bedienaar van die goeie nuus was, was ons nie in hierdie toestand nie. Wel, ons kan oor ietsie geesteliks praat, oor wat ons opinies is, oor watter boeke ons gelees het of wat ander mense verkeerd doen.

Uiteindelik, het Jesus gesê: "Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrugte dra; en julle sal my dissipels wees" (Johannes 15:8, AFR53). As daar geen vrug is nie, hou liewer op praat. Wees ten minste nederig genoeg om te erken: "Ek moet teruggaan na die skool van Christus en leer hoe om vrugbaar te wees."

Ons moet die Gees aanroep om vrug te dra en teen die duisternis te skyn.

Jim Cymbala het die Brooklyn Tabernacle begin met minder as twintig lede in ‘n klein bouvallige gebou in ‘n ongure deel van die stad. Hy is oorspronklik van Brooklyn en is ‘n jarelange vriend van beide David en Gary Wilkerson.