Satan se Aanvalle Fnuik

David Wilkerson (1931-2011)

Baie Christene haal een spesifieke gedeelte van Paulus se geskrifte aan met 'n wanbegrip van waaroor hy geskryf het. “Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp” (2 Korinthiërs 10:3-4, AFR53). Die meeste van ons dink aan vestings of bindinge soos seksuele oortredings, dwelmverslawing, alkoholisme of ander uiterlike sondes wat ons boaan die “ergste sondes”-lys plaas. Paulus verwys egter hier na iets veel erger as ons menslike opvatting van sondes.

Hy praat nie van demoniese besetenheid nie. Myns insiens, kan die duiwel nie die hart van enige oorwinnende Christen binnegaan en 'n plek in daardie persoon opeis nie.

Die figuurlike betekenis van Paulus se woord vir vesting in Grieks is “styf vashou aan ’n redenasie”. 'n Vesting is 'n beskuldiging wat vas in jou gedagtes geplant is. Satan vestig vestings in die harte van God se kinders deur valshede en wanopvattings oor God se natuur te plant. Die vyand kan byvoorbeeld 'n leuen in jou gedagtes plant dat jy God se genade onwaardig is. Hy mag dalk herhaaldelik vir jou fluister, “Jy sal nooit vry wees van die sonde wat jou teister nie. Jy het nie hard genoeg probeer nie. God het geduld met jou verloor as gevolg van jou voortdurende oppe en affe.”

Die duiwel kan probeer om jou te oortuig dat jy die reg op bitterheid het en dat God nie omgee oor jou vyandigheid nie. As jy aanhou om na sy leuens te luister, sal jy dit begin glo. Hierdie leuens kan Satan se vestings word.

Die enigste wapen wat die duiwel bang maak, is dieselfde een wat hom in die woestynversoekings van Jesus laat skrik het. Daardie wapen is die waarheid van die lewende Woord van God. Volgens Miga moet ons aan hierdie belofte vashou: “Wie is ‘n God soos U, wat die ongeregtigheid vergewe en by die oortreding van die oorblyfsel van sy erfdeel verbygaan? Hy hou toorn nie vir ewig vas nie, maar het ‘n welbehae in goedertierenheid. Hy sal Hom weer oor ons ontferm, ons ongeregtighede vertree; ja, U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp” (Miga 7:18–19). Ons onderwerp nie ons eie sondes nie. God sal hulle onderwerp deur bekering en geloof.