Dankseggingtyd!

David Wilkerson (1931-2011)

Die onderwerp van danksegging het onlangs ter sprake gekom tydens 'n tyd van ernstige persoonlike swaarkry. Ons kerkgebou het destyds baie werk nodig gehad. Gemeentelede se probleme het opgehoop. Almal wat ek geken het, het gelyk of hulle deur een of ander beproewing gaan, en ek het die las van dit alles gevoel.

Ek het by my kantoor ingegaan, gaan sit en jammer gevoel vir myself. Ek het by God begin kla: “Here, hoe lank gaan U my in hierdie vuur hou? Hoe lank moet ek oor al hierdie dinge bid voordat U iets sal doen? Wanneer gaan U my antwoord, God?”

Skielik het die Heilige Gees op my geval, en ek het skaam gevoel. Die Gees het in my hart gefluister, “Begin net nou om My te dank, David. Bring vir My 'n dankoffer vir al die vorige dinge wat Ek vir jou gedoen het en vir wat Ek in die toekoms gaan doen. Gee my ’n dankoffer en skielik sal alles anders lyk!”

Daardie woorde het in my gees gaan lê, maar ek het gewonder: "Wat bedoel die Here, “'n dankoffer'?" Ek het die frase in die Skrif opgesoek en was verstom oor al die verwysings wat ek gevind het.

“En laat hulle lofoffers bring en met gejubel sy werke vertel” (Psalm 107:22, AFR53).

“Ek sal U ‘n offer van danksegging bring en die Naam van die HERE aanroep” (Psalm 116:17).

“Laat ons sy aangesig tegemoetgaan met lof, met lofsange Hom toejuig” (Psalm 95:2).

“Gaan sy poorte in met lof, sy voorhowe met lofgesang; Loof Hom, prys sy Naam” (Psalm 100:4).

Ons leef in 'n tyd waarin ons hoëpriester, Jesus, reeds die offer van sy eie bloed aan die Vader gebring het om versoening te doen vir ons sondes. Christus het al ons oortredinge uitgewis, om nooit teen ons onthou te word nie. Vir ons, is die werk van versoening voltooi.

Ons moenie meer vir God bloedoffers of offers van silwer en goud vir versoening bring nie. In plaas daarvan, moet ons vir Hom 'n offer van lof en danksegging bring. “Laat ons dan gedurig deur Hom aan God ‘n lofoffer bring, dit is die vrug van ons lippe wat sy Naam bely” (Hebreërs 13:15). Die “vrug van ons lippe” is dankbaarheid en danksegging!