Christus Het die Stryd Gewen

David Wilkerson (1931-2011)

Ek het die afgelope maande baie hartseer briewe gelees van gelowiges wat nog steeds deur sondige gewoontes gebind is. Menigtes sukkelende Christene skryf: "Ek kan nie ophou dobbel nie ... ek is in die greep van 'n alkoholverslawing ... ek het 'n verhouding, en ek kan dit nie verbreek nie ... ek is 'n slaaf van pornografie." In brief na brief sê hierdie mense dieselfde: "Ek is lief vir Jesus en ek het God gesmeek om my te bevry. Ek het gebid, gehuil en goddelike raad gesoek. Maar ek kan net nie loskom nie. Wat kan ek doen?"

Ek het baie tyd daaraan bestee om die Here te soek vir wysheid oor hoe om hierdie gelowiges te antwoord. Ek het gebid: “Here, U ken u kinders se lewens. Baie is toegewyde, Geesvervulde heiliges, maar tog het hulle nie u oorwinning nie. Wat gaan aan?"

Op 'n stadium het ek Bybelgedeeltes bestudeer wat God se beloftes aan sy kinders bevat. Ek is daaraan herinner dat die Here ons belowe om te keer dat ons struikel, om ons onberispelik voor Hom te stel, om ons deur geloof te regverdig, om ons deur geloof te heilig en heilig te hou. Hy belowe dat ons ou mens deur die geloof gekruisig is en dat ons deur geloof in sy koninkryk opgeneem word.

Die enigste gemeenskaplike ding wat by al hierdie beloftes, is die frase “deur geloof”. Al hierdie dinge is inderdaad geloofsake, volgens God se Woord.

Sukkel jy om deur jou wilskrag die oorwinning te behaal? Stry jy die stryd met jou ou natuur? Paulus wys daarop: “Maar aan hom wat werk, word die loon nie na guns toegereken nie, maar na die verdienste; aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken” (Romeine 4:4-5, AFR53).

Trouens, Paulus sê dat daar slegs een voorwaarde verbonde is aan God se beloftes. “Ook julle wat vroeër vervreemd was en vyandig gesind deur die bose werke, het Hy nou versoen in die liggaam van sy vlees deur die dood, om julle heilig en sonder gebrek en onberispelik voor Hom te stel; As julle ten minste gegrond en vas bly in die geloof en julle nie laat afbring van die hoop van die evangelie  nie, wat julle gehoor het” (Kolossense 1:21-23, beklemtoning bygevoeg).

Christus het alles aan sy Vader oorgegee om volkome gehoorsaam te wees, en ons moet dieselfde doen. Ons moet heeltemal afhanklik wees van die Vader, net soos Christus was.