Brandpunt: Om Die Onsigbare Te Hanteer

Gary Wilkerson

Die woord "hotspot" of brandpunt het baie definisies. Dit kan 'n nuwerwetse klub, 'n ligging van internetbeskikbaarheid (kuberkol) of selfs 'n plek van hoë aktiwiteit in 'n oorlogsone aandui. Superverhitte brandpunte onder die aardkors skep vulkaniese kettings op die aarde se oppervlak. Die Hawaiiaanse eilande, wat onlangs so verwoes is deur veldbrande, vorm 'n brandpuntketting.

In 'n bosbrand is brandpunte 'n bedreiging. Smeulende kole, onsigbaar en begrawe onder verskroeide plantegroei, kan weer opvlam en 'n nuwe brand veroorsaak as dit nie geblus word nie. Volgens brandbestryders het brandpunte wat twee tot drie dae opeenvolgend voorkom 'n hoë potensiaal om volwaardige bosbrande te word. Brandbestrydingspanne gebruik metodes om die warmste dele te teiken en om seker te maak dat die reeds afgebrande gedeeltes nie weer opvlam nie. Hulle is deeglik, trek deur diep canyons en hoë berge terwyl hulle oor en oor gebiede van potensiële brande fynkam.

Mense het ook brandpunte, probleme wat ons wegsteek en laat smeul. Soms ignoreer ons hulle of kyk in die verbygaan daarna, maar dikwels probeer ons net die mees ooglopende simptoom behandel: die rook. Sommige gebruik sedelikheid of wettisisme om die uiterlike tekens te probeer aanspreek. Baie gebruik voeding, rus, medikasie en ander middele om die tekens uit te wis en dink: “Daar. Dit het daarvoor gewerk”. Die kwessies wat aanhou opvlam, verdien egter om weer na gekyk te word, want dit sal keer op keer opvlam as daar nie iets aan gedoen word nie.

Het jy dalk 'n patroon van woede of kritiek opgemerk? Miskien is dit angs of onvergewensgesindheid. Wat van om mense te behaag, oorbesteding, dwelmmisbruik of oorwerk jy jou tot nadeel van jou gesin? Herhalings van hierdie dinge is waarskuwings dat daar iets dieper aan die gang is. Dit is ons teken om na die kruis te gaan.

Ons begin deur 'n volkome en oop hart voor God te stel, skurwe kolle en al. Die doelgerigte daad om Hom beheer te gee, laat die Heilige Gees toe om sy kragtige werk te doen. Ons Skepper sien wat ons, in ons eindige menslikheid, nie kan nie. Soos Dawid gesê het: "Die afdwalinge – wie bemerk hulle?" (Psalm 19:12, AFR53). Net God kan hulle op geestelike vlak onderskei en genees.

Terwyl Hy sy werk doen, werk ons saam. Ons moet dalk sake regmaak, meer aanspreeklik word of 'n fundamentele lewenstylverandering maak. Wat ook al nodig is, moenie tou opgee nie! “Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie” (Jakobus 1:4). Wees verseker dat God daar sal wees om jou te help om jou brandpunte te blus en vorentoe te beweeg met heelheid en gesondheid.