Armes in die Land van Oorvloed

David Wilkerson (1931-2011)

Is jy moeg daarvoor om soos ‘n arme te leef as alles wat jy nodig het tot jou beskikking is? Miskien is jou fokus verkeerd. Is jy geneig om oor jou swakhede, versoekings en vorige mislukkings te peins? Ontmoedig dit wat jy diep in jou hart sien jou? Het jy toegelaat dat skuldgevoelens insluip?

Geliefde, jy is veronderstel om te kyk na Jesus, die begin en voleinding van jou geloof! Wanneer Satan opdaag en na ‘n swakhede in jou hart wys, het jy die volste reg om te antwoord: “My God weet dit alles reeds en Hy het my steeds lief. Hy het vir my alles gegee wat ek nodig het om oorwinning te behaal en dit te behou.”

“Want as ons hart ons veroordeel, God is meer as ons hart, en Hy weet alles” (1 Johannes 3:20, AFR53). Hy weet alles van jou en Hy het jou steeds genoeg lief om te sê: “Kom in en kry alles wat jy nodig het!”

Die deure van sy stoorkamer is wyd oop, vol en oorvloedig. God dring by jou aan: “Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Hebreërs 4:16).

Hoeveel jare was jy buite? Jy het ‘n Vader wat ‘n groot skatkamer van voorrade vir jou gestoor het en jy laat dit onopgeëis. Die verlore seun se geskiedenis wys dat deur in te gaan en sy vader se skatte te geniet, het die seun dit aan albei kante gehad. Hy kon sy aardse lewe leef met die oorvloed wat syne was en na die dood sou hy sy ewige erfenis ten volle geniet.

Die grootste sonde was gepleeg deur die ouer broer wat by die huis gebly het, gehoorsaam geleef en nooit sy vader teleurgestel het nie. Ja, dit is ‘n sonde om ons Vader se hulpbronne te vermors op sensuele lewe en ‘n afvallige gees, maar dit is ‘n nog groter sonde om God se liefde af te wys deur die oorvloedige hulpbronne wat Hy vir ons gegee het, onopgeëis te laat.

Die verlore seun was nie bestraf of herinner aan sy sonde nie omdat God nie sou toelaat dat sonde die fokus van herstel sou wees nie! Daar was ware bekering en goddelike droefheid, en dit was tyd om na die feesmaal te gaan. Die vader het vir die ouer seun gesê: “Hy was verlore, maar nou is hy weer in die huis. Hy is vergewe en dit is tyd om te juig en bly te wees!”