In die Arabiese Woestyn in

David Wilkerson (1931-2011)

As ek mense sou wou behaag, kan ek eenvoudig nie 'n dienaar van Christus wees nie. As my hart gemotiveer word deur die goedkeuring van ander, sal my lojaliteite verdeel wees en die dryfkrag agter my optrede verward wees. Ek sal altyd daarna streef om iemand anders as Jesus tevrede te stel.

'n Paar jaar nadat die apostel Paulus tot bekering gekom het, het hy na die kerk in Jerusalem gegaan om by die dissipels daar aan te sluit, “maar almal was vir hom bang, omdat hulle nie geglo het dat hy ‘n dissipel was nie” (Handelinge 9:26, AFR53). Die apostels het almal die berugte reputasie van Paulus as vervolger geken. “En ek was persoonlik onbekend by die Christelike gemeentes van Judéa; hulle het net gehoor: hy wat ons vroeër vervolg het, verkondig nou die geloof wat hy vroeër besig was om uit te roei” (Galásiërs 1:22-23).

Barnabas het die apostels gehelp om hulle vrees vir Paulus te bowe te kom, en dit was miskien baie aanloklik vir Paulus om hom as 'n soort bekende bekeerling te vestig, maar hy het besluit om onder die heidene te reis. Trouens, Paulus sê: “Maar ek maak julle bekend, broeders, dat die evangelie wat deur my verkondig is, nie na die mens is nie. Want ek het dit ook nie van ‘n mens ontvang of geleer nie, maar deur ‘n openbaring van Jesus Christus ... het ek dadelik nie vlees en bloed geraadpleeg nie” (Galásiërs 1: 11-12,16).

Wat bedoel Paulus hiermee? In Galásiërs 1:17 verduidelik hy dat hy: “ook nie na Jerusalem opgegaan na die wat voor my apostels was nie, maar na Arabië vertrek.” Wat hy hier sê, is van toepassing op almal wat die gedagtes van Christus wil hê. “Ek hoef nie boeke te lees of menslike maniere te gebruik om te kry wat ek het nie. Ek het my bediening en my salwing op my knieë ontvang. Ek het na Arabië en die woestyn gegaan sodat Christus aan my geopenbaar kon word. Ek het kosbare tyd daar deurgebring deur my te ontledig en deur die Heilige Gees geleer te word.”

Dit regverdig geensins diegene wat arrogante, “lone-ranger” gelowiges is nie. Ons weet dat Paulus 'n dienskneg se hart gehad het. Hy het homself van eie ambisie ontledig en volkome op Christus vertrou.

As jy daarop ingestel is om Christus te ken en behaag, sal jy nie die goedkeuring van menslike leraars bo die opdragte van die Heilige Gees plaas nie. Vermy dit om ander gelowiges te volg eerder as die Here. Eers dan sal jy 'n duidelike visie handhaaf van God se roeping in jou lewe.