Altyd Gereed Deur Gebed

David Wilkerson (1931-2011)

Wanneer 'n krisis toeslaan, het jy nie tyd om jouself op te bou met gebed en geloof nie. Diegene wat hul tyd in die binnekamer saam met Jesus deurbring, is egter altyd gereed.

’n Paartjie het onlangs aan ons bediening geskryf in ’n gees wat openbaar het dat hulle by Jesus was. Hul 24-jarige dogter was saam met 'n vriend uit toe 'n mal man albei jong vroue ontvoer het. Hy het hul dogter op 'n gruwelike manier vermoor. Die egpaar was geskok. Hulle vriende en bure het gewonder: "Hoe kan enige ouer hierdie soort tragedie oorleef?"

Binne dieselfde uur het die Heilige Gees na die bedroefde egpaar gekom en bonatuurlike vertroosting gebring. Natuurlik, in die pynlike dae wat gevolg het, het daardie bedroefde ouers aangehou om God te vra hoekom, maar tog het hulle heeltyd goddelike rus en vrede ervaar.

Almal wat hierdie ouers geken het, was verstom oor hul kalmte, maar daardie egpaar was voorbereid op hul krisisoomblik. Hulle het die hele tyd geweet dat God nooit sou toelaat dat iets met hulle gebeur sonder 'n onderliggende doel nie. Toe die verskriklike nuus kom, het hulle nie ineengestort nie, want hulle geloof was gebaseer op onwrikbare waarhede.

Hierdie egpaar het die Skrif se woorde uitgeleef: “God is vir ons ‘n toevlug en sterkte; as hulp in behoudhede is Hy in hoë mate beproef. Daarom sal ons nie vrees nie, al waggel die aarde en al wankel die berge weg in die hart van die see. Laat sy waters bruis, laat hulle skuim; laat die berge bewe deur sy onstuimigheid! Sela” (Psalm 46:2-4, AFR53).

Trouens, hierdie ouers en hul oorlewende kinders het vir die moordenaar begin bid. Die mense in hul dorp kon dit nie aanvaar nie, maar die godvresende egpaar het gepraat en verkondig van God se vermoë om krag te gee, maak nie saak wat hulle beleef nie. Die dorpsmense het erken dat hulle krag net van Jesus kom. Kort voor lank het hulle van die egpaar gesê: "Hulle is 'n wonderwerk. Dit is ware Jesus-mense.”

Hoeveel van ons is op dieselfde manier bekend? Hoeveel van ons het al jare in ons binnekamer voorberei sodat 'n krisis ons nie platslaan nie? Kom ons soek nou die Here se aangesig en versterk onsself in Hom, lank voor die beproewinge toeslaan.