Aan Gemak Vasklou

Gary Wilkerson

Daar is ten minste ses of sewe verskillende dinge wat 'n skeptikus vir jou sal sê wanneer jy 'n boodskap van God het. Kom ons sê jy is aan die verkeerde kant van die Jordaan, aan die dwaalkant van die lewe, maar jy word na die anderkant geroep. God is gereed om jou in 'n Beloofde Land in te stuur. Daar sal nooit 'n tyd in jou lewe wees wanneer jy meer angs en onsekerheid sal ervaar as die tyd wanneer jy reg op die grens is om in besit te neem wat God vir jou lewe het.

As jy wil, reis bietjie saam met my en stel net een van Josua se vertrouelinge voor jou geestesoog, 'n medewerker of dalk 'n generaal in sy weermag. Hulle kom na hom toe en sê: “Josua, ek wil met jou praat.” Stel jou voor dat hierdie man 'n skeptikus in Josua se lewe is, iemand wat na hom toe gekom en gesê het: "Josua, ek sien die plan van God. Ek sien die visie en ek hoor die passie in jou hart, maar jy moet wys wees oor waarheen ons op pad is. Ons moet waaksaam wees; ons moet versigtig wees.”

Die eerste ding wat ek glo die skeptikus eintlik sê, is: "Dit is makliker waar jy is." Dit is altyd makliker aan hierdie kant van die Jordaan. Hoekom? Want jy is al 'n rukkie daar; dit is so eenvoudig soos dit. Dit is bekend, selfs al is jy op 'n ongemaklike plek.

Baie Christene leef onder 'n subtiel misleidende oortuiging dat as 'n roeping te veel werk is, dit nie van God af kan wees nie. As dit van God af is, sal dit maklik en gerieflik wees en dit sal nie 'n gees, wat sterk en vol lewenskrag is, verg nie. Dit is 'n misleiding van die vyand, want hy gaan probeer om jou so ver te kry om te sê: "Dit word te moeilik; dit is tyd om op te gee. Dit raak nou te veel werk en ek wil ophou arbei.”

Soms is dit makliker om op 'n slegte plek te bly, om gevestig, gemaklik en vasgeplak te wees omdat jy vertroud is met die plek.

Wanneer God ons roep om te trek en ons aan ons gemak vasklou, vind ons dikwels uit dat ons meer ongemaklik raak met die dinge wat ons eens getroos het. Ons sou eintlik minder ongemaklik wees as ons onsself toegespits het op die dinge waartoe God ons geroep het om na te streef. Om aan die gemaklike dinge vas te klou, kan die ondergang van die roeping van God op jou lewe word.