‘n Persoonlike Openbaring van Christus

David Wilkerson (1931-2011)

As jy ‘n prediker, sendeling of leraar is, het jy vrae om aan te dink. Wat leer jy? Is dit iets wat iemand jou geleer het? Is dit ‘n herhaling van een of ander groot leraar se openbaring? Of het jy jou eie persoonlike openbaring van Jesus Christus? As jy het, neem dit toe?

Paulus het van God gesê: “Want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons” (Handelinge 17:28, AFR53). Ware mans en vroue van God leef binne hierdie klein, maar tog groot kring. Al hulle bewegings, hulle hele bestaan, gaan slegs oor die belange van Christus.

Om Christus te verkondig, moet ons ‘n voortdurende vloei van die Heilige Gees hê. Anders sal ons ‘n afgesaagde boodskap herhaal. “Want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God. Want wie van die mense weet wat in ‘n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie behalwe die Gees van God. Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het. Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk” (1 Korinthiërs 2:10-13).

Soortgelyke openbaring wag op elke dienaar van die Here wat gewillig is om op Hom te wag, die Heilige Gees glo en op Hom vertrou om aan hom die gedagtes van God te openbaar. Ons moet ‘n toenemende openbaring van Christus verkondig, maar slegs as daardie openbaring ‘n diepgaande verandering in ons bewerkstellig.

Paulus het sy persoonlike besorgdheid oor hierdie tema uitgespreek. “Maar ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie” (1 Korinthiërs 9:27). Paulus sou sekerlik nooit sy vastigheid in Christus in twyfel getrek het nie; dit was nie sy bedoeling hier nie. Hy was bang vir die gedagte om voor die oordeelstroon van Christus te staan om geoordeel te word vir ‘n Christus wat hy verkondig het wat hy nie regtig geken het nie, of vir ‘n evangelie wat hy nie volkome uitgeleef het nie.

Ons kan nie nog ‘n uur aanhou om onsself dienaars van God te noem totdat ons hierdie vraag persoonlik kan antwoord nie: Wil ek werklik niks anders as Christus hê nie? Is Hy werklik alles vir my, my een doel waarom ek lewe?